ʼn Manlike verpleër is Maandagaand by die Sterkfontein-hospitaal in Krugersdorp met ʼn skerp voorwerp doodgesteek.
ʼn Woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, Simon Zwane, sê die man is Maandagaand by die hospitaal se woonkwartiere deur sy vriendin met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Die voorval het omstreeks 20:00 gisteraand plaasgevind. Die verpleër is op die toneel dood. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Die LUR vir gesondheid, Ntombi Mekgwe, het haar skok uitgespreek oor die voorval en medelye betoon met die oorledene se gesin.