Minstens 400 mense is Vrydag beseer toe ʼn meteoriet in sentraal Rusland deur die lug getrek en vuurballe in ʼn meteorietreën geval het.
Talle vensters is glo ook gebreek en van die motors se alarms het afgegaan. Die Russiese regering het nooddienswerkers na die gebied gestuur waar ‘n meteoriet blykbaar in die atmosfeer ontplof en ‘n meteorietreën oor veral die stad Chelyabinsk veroorsaak het. Die meteoriet het deur die lug getrek en ʼn lang wit stert kon 200 km ver in Yekaterinburg gesien word.
Honderde mense is deur versplinterende glas getref en moes behandeling ontvang vir die ligte beserings wat hulle opgedoen het.
ʼn Plaaslike regeringsbeampte het gesê die meteorietreën hou moontlik verband met ʼn asteroïde, so groot soos ʼn Olimpiese swembad, wat Vrydag sowat 27 520km verby die aarde sal trek, maar dit kan nie bevestig word nie.