Bekende kletsrymer sterf

Aaron Carter. (Foto: Xavier Collin / AFP / NurPhoto)

Die sanger en kletsrymer Aaron Carter is Saterdag dood in ʼn bad in sy huis in Kalifornië in die VSA aangetref. Carter is die jonger broer van Nick Carter (42), die Backstreet Boys-sanger.

NBC News berig dat die polisie kort voor 11:00 na Aaron Carter (34) se huis in Valley Vistarylaan in Lancaster ontbied is. Sy liggaam is na verneem word deur een van sy personeellede gevind.

“Ons is geweldig hartseer en geskok om die dood van Aaron Carter te bevestig,” het sy verteenwoordiger in ʼn verklaring gesê.

“Die oorsaak van sy dood word tans ondersoek. Ons vra dat die familie tyd gegun word. Hulle sal meer inligting kan gee sodra dit beskikbaar is. Ons is oorweldig met die hoeveelheid liefde wat nou instroom.”

Carter se tweelingsussie, Angel Conrad, was die eerste van sy sibbe wat ʼn openbare verklaring oor sy dood gemaak het. Sy het onder meer foto’s uit hul kinderdae op haar Instagram-profiel gedeel en gesê dat sy haar broer uiters lief gehad het.

“My snaakse, dierbare Aaron. Ek het so baie herinneringe van my en jou, en ek belowe om dit te koester,” het Conrad geskryf.

“Ek weet jy het nou vrede. Ek sal jou saam met my dra tot die dag wat ek doodgaan en jou weer kan sien.”

Nick het kort daarna ook ʼn inskrywing op Instagram gemaak en gesê sy hart is gebreek.

Ten spyte van hul “ingewikkelde verhouding”, soos Nick dit beskryf, sê hy dat hy sy broer altyd liefgehad het.

“Ek het altyd aan die hoop vasgehou dat hy op ʼn manier eendag ’n gesonde pad sou wou loop en die hulp kry wat hy so verskriklik nodig gehad het,” het Nick geskryf.

“Soms wil ons iets of iemand blameer vir ’n verlies. Die waarheid is egter dat verslawing en probleme met geestesgesondheid die werklike booswig is.”

Nick het sy verklaring afgesluit deur te sê hy hoop sy broer kan nou die vrede vind wat hy nooit op aarde kon kry nie.

Carter, wat in Florida gebore is, het op die ouderdom van sewe begin optree en sy eerste album op die ouderdom van nege uitgereik.

Meer as drie miljoen eksemplare van sy album Aaron’s Party (Come Get It) is in die VSA verkoop en het van hom ʼn tienerster gemaak.

Hy was ook ʼn bekende gesig op die kindertelevisiekanale Nickelodeon en Disney.

Sy album Oh Aaron het later platinumstatus behaal.

As volwassene het Carter met verskeie probleme, onder meer verslawing, finansiële probleme en familietwis geworstel, wat dikwels in die media beland het.

Hy het vroeër vanjaar aan The Daily Mail gesê dat hy al vyf jaar “skoon” is en nie meer in die openbaar as ’n “mislukking” uitgebeeld wil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

Kinders van 7 en 9 is nie emosioneel gereed om die druk en roem te hanteer nie. Hy het geen gewone kinderjare gehad nie. Waar was sy ouers wat hom moes beskerm het?? Stress, dwelms, alkohol eis sy tol

Niklaas ·

Op 34 dood. Moontlike misbruik van sekere middels . Sy lewe was voor hom uitgestrek . As mense net kan besef watter gevaar sekere opkikker middele of dwelms kan inhou.

Ronél ·

Die lewe sluk mense in…………..en soek antwoorde/uitkoms in die wêreld

Korrelkop ·

Snaaks hoe die strydbyl skielik begrawe lê wanneer iemand doodgaan

Windhond ·

Ken hom nie – kletsrym is vir my persoonlik pynlik om na te luister – ek is baie lief vir enige musiek genre -maar kletsrym is geensins musiek nie – dit grens aan punk heavy metal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.