Soorte resepte:

Franse bak langste baguette ter wêreld

Altesaam 18 bakkers het saamgewerk om die ellelange baguette te bak. (Foto: Skermgreep/BBC video/Gabriela Boccaccio, Jack Burgess)

Franse bakkers van Suresnes in Parys, Frankryk, het Sondag ʼn nuwe Guinness-wêreldrekord opgestel toe hulle ʼn baguette van 140,53 m lank gebak het.

Dié ellelange Franse baguette het stof geskop in die oë van ʼn megabrood van 132,62 m wat in 2019 in Como, Italië, gebak is.

ʼn Span van 18 bakkers het die reusebrood tydens ʼn geleentheid vir die French Confederation of Bakers and Pastry Chefs gebak.

“ʼn Rekord vir die langste handgemaakte baguette vereis ware gees en kollektiewe sportmanskap,” sê Dominique Anract, president van die organisasie.

Die brood was 140,53m lank. (Foto: Skermgreep/BBC video/Gabriela Boccaccio, Jack Burgess)

“Brood is die enjin vir prestasie, en ons baguette is ʼn belangrike deel van ons [Frankryk se] gastronomiese erfenis.”

Deelnemende bakkers het om 03:00 aan 152 kg se deeg begin knie. Die deeg het sowat 90 kg meel, 60 liter water, 1,2 kg sout en 1,2 kg gis bevat.

Die baguette is gebak in ʼn stadig bewegende oond op wiele.

“Suresnes is trots om die plek te wees vir hierdie rekord vir die langste baguette ter wêreld, aangesien dit ons nasionale, gastronomiese simbool bevorder asook die ambagslui wat hulle kennis laat voortbestaan,” sê burgemeester Guillaume Boudy.

Die brood is opgesny en met die publiek gedeel. (Foto: Skermgreep/BBC video/Gabriela Boccaccio, Jack Burgess)

“Ek wens die bakkers van Suresnes wat aan die geleentheid deelgeneem het, geluk.”

Anthony Arrigault, een van die bakkers, sê hy is trots dat hy aan die geleentheid deelgeneem het. “En dit boonop in my tuisdorp,” het hy gesê.

Die baguette is opgesny en aan die publiek uitgedeel.

ʼn Tradisionele Franse baguette is sowat 60 cm lank en word gemaak met slegs meel, sout en gis, en weeg omtrent 250 g, volgens die amptelike maatreëls.

Kyk hier na die BBC se video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.