Hollywood: Selena Gomez maak hart oop oor gesondheid; babanuus vir dié glanspaartjie

Selena Gomez by vanjaar se Golden Globe-toekennings. (Foto: Jon Kopaloff/Getty Images North America/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Selena Gomez maak hart oop oor gesondheid, gewigtoename

“Wanneer ek medisyne drink, hou ek watergewig terug. Wanneer ek dit nie drink nie, is ek geneig om weer gewig te verloor. Vir enigiemand wat tans deur iets gaan waaroor hulle skaam is: Niemand ken die regte storie nie.”

Só het Selena Gomez, wat aan Lupus ly, tydens ʼn onlangse regstreekse uitsending op TikTok oor haar gesondheid gesels. Sy het ook gekap na mense wat kommentaar gelewer het oor haar gewig ná haar onlangse verskyning op die Golden Globes-rooitapyt.

Die 30-jarige Only murders in the building-ster het ook benadruk dat sy nie ʼn model is nie, en dat sy nie daarin glo om ander se liggame te spot nie.

“Ek wil net hê dat mense moet weet dat hulle beeldskoon en wonderlik is. Ja, daar gaan dae wees wat ons sleg voel, maar ek sal eerder gesond wees en na myself omsien,” het sy verduidelik.

Francia Raisa het in 2017 haar nier aan Selena Gomez geskenk. (Foto: Instagram)

“My medikasie is belangrik en ek glo dit is wat my help.”

Selena is in 2007 met Lupus gediagnoseer en het in 2017 ʼn nieroorplanting gehad. Die medisyne wat sy hiervoor drink laat haar onder meer gewig optel en veroorsaak bewing in haar hande.

“Om eerlik te wees, gee ek nie oor my gewig om nie, mense kla in elk geval daaroor,” het sy in April 2022 in ʼn TikTok gesê.

“’Jy is te klein, jy is te groot’. Ek is perfek, nes ek is.”

Babanuus vir Ryan Reynolds en Blake Lively

Deadpool-ster, Ryan Reynolds, meen sy huis is nou ʼn “dieretuin” nadat hy en Blake Lively vir ʼn vierde keer ouers geword het.

Blake Lively en Ryan Reynolds se vierde kind is gebore. (Foto: Monica Schipper/Getty Images/AFP)

“Kyk, ons sou dit nie vier keer gedoen het as ons nie gek daaroor was nie,” het Ryan op Maandag 13 Februarie tydens ʼn virtuele onderhoud met CNBC se Power Lunch oor die nuwe lid van hul gesin gesê.

“Dit gaan goed, eintlik fantasties met almal.”

Alhoewel die nuwe pa nog nie te veel oor die nuwe familielid verklap het nie, het hy wel bygevoeg dat as hulle ouerskap nog nie met hul drie dogters, James (8), Inez (6) en Betty (3) onder die knie gekry het nie, gaan dit nooit gebeur nie.

Intussen het hy wel verklap dat Emma Corrin, wat bekendheid vir haar vertolking van ʼn jong prinses Diana in The Crown verwerf het, amptelik deel van die Deadpool-opvolgrolprent gaan wees.

Breaking Bad-broekie nou te koop

ʼn Onderbroek wat die akteur, Bryan Cranston, in die trefferreeks, Breaking Bad, gedra het, is te koop.

Bryan Cranston. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Dié kledingstuk wat Bryan in die loodsepisode van die reeks dra, vorm deel van die Los Angeles aanlyn vermaakveiling. Dit vorm deel van ʼn 1 000 stuk-versameling van vermaakrekwisiete en memorabilia wat deur die jare op die kassie te sien was.

Daar word verwag dat dié Breaking Bad-broekie minstens $5 000 (sowat R91 300) sal inoes.

Popster nou aan’t stuur van sake by Louis Vuitton se mansafdeling

Die sanger, Pharrell Williams, is Dinsdag as die hoof van Louis Vuitton se mansafdeling aangewys.

Pharrell Williams. (Foto: Dia Dipasupil/Getty Images North America/AFP)

“Pharrell is ʼn visioenêr wie se kreatiewe wêreld van musiek tot kuns en mode strek,” lui die verklaring wat deur die modehuis uitgereik is.

Die 49-jarige Pharrell is al jare lank in die musiekwêreld doenig en spog met 13 Grammy-toekennings en twee Oscar-benoemings. Hy het homself ook deur sy loopbaan as mode-liefhebber gevestig.

“Sy kreatiewe visie strek verder as mode, en hy sal beslis Louis Vuitton na ʼn nuwe, opwindende hoofstuk lei,” het Pietro Beccari, uitvoerende hoof van die modehuis gesê.

Pharrell vul die skoene van Virgil Abloh, wat in November 2021 sy stryd met kanker verloor het.

Video: Grey’s Anatomy groet Dr. Grey

Ellen Pompeo, wat al sedert 2005 die rol van dr. Meredith Grey in die treffer-dramareeks, Grey’s Anatomy, vertolk, sal dié reeks op Donderdag 23 Februarie vanjaar vaarwel roep.

ABC het  ʼn tranetrekker-afskeidsvideo uitgereik om Ellen ná 19 seisoene te groet. Alhoewel sy vir die laaste episode van die jongste seisoen terugkeer, gaan kykers eersdaags Grey’s Anatomy sonder dr. Grey moet kyk.

Kyk die afskeidsvideo hier:

Lokprent: Grease: Rise of the Pink Ladies

Grease is terug, dié keer in die vorm van ʼn musikale reeks. Kyk die lokprent daarvan hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.