Hospitaaltrollie veroorsaak tiener se dood

Die Gloucestershire Royal Hospital in Engeland. (Foto: National Health Executive)

ʼn 17-jarige het waarskynlik gesterf omdat die hospitaaltrollie waarop sy oorgeplaas is, haar suurstofpyp vasgeknyp het en dit tot gevolg gehad het dat die suurstoftoevoer vir ʼn paar sekondes afgesny is.

Jasmine Hill van Cirencester in Engeland het in September 2020 ʼn hartaanval gehad kort nadat sy ʼn operasie aan haar nek in die Gloucestershire Royal Hospital in die suidweste van Engeland ondergaan het.

Die plaaslike lykskouer het ná ʼn drie dae lange geregtelike doodsondersoek bevind dat haar dood toegeskryf kan word aan ʼn tekort aan suurstof en dat die suurstof waarskynlik vir 30 sekondes lank afgesny is terwyl sy van die operasietafel na die herstelbed verskuif is.

Tydens die geregtelike doodsondersoek het die hof in Gloucestershire gehoor dat Jasmine in September 2020 ʼn operasie aan haar skildklier ondergaan het, maar moontlik toe infeksie opgedoen het en weer in die hospitaal opgeneem moes word.

“Dit was nodig vir haar om ʼn tweede prosedure te ondergaan om die wond skoon te maak. Dit is na afloop van die tweede prosedure wat sy die noodlottige gebrek aan suurstof ervaar het,” het Roland Wooderson, die plaaslike lykskouer, in sy bevinding gesê. Data van ʼn chirurgiese masjien wys dat sy vir 30 sekondes lank nie suurstof gekry het nie. Hierdie gebrek aan suurstof het waarskynlik die hartaanval tot gevolg gehad.

Jasmine Hill. (Foto: BBC)

“Die mees waarskynlike oorsaak van hierdie katastrofiese gebeure is dat die suurstofpyp toegeknyp is deur die rotasie van die bed wat dit makliker moes maak om haar van die operasietafel na die herstelbed te verskuif,” het hy bevind.

Die kenner dr. Jonathan Hardman het getuig dat die wiele van die trollie, of enige ander mediese toerusting, oor die pyp kon gerol het terwyl die bed roteer.

Die familie was aanvanklik van mening dat Jasmine dalk self die pyp toegebyt het toe sy gehoes het terwyl sy besig was om haar bewussyn te herwin. Kenners het egter dié verduideliking van die hand gewys aangesien die pyp nie beskadig was nie.

In ʼn verklaring wat na afloop van die geregtelike doodsondersoek uitgereik is, sê haar familie: “Ons is dankbaar dat die lykskouer kon uitpluis wat daardie dag met ons geliefde Jasmine gebeur het. Sy was ʼn bedeesde, stil en skaam meisie. Wanneer jy haar leer ken het, het sy egter oopgemaak en het haar geaardheid, sin vir humor, warmte en intelligensie na vore gekom.”

Die familie sê hulle hoop die bevindings sal help voorkom dat ʼn soortgelyke tragedie ooit weer enige individu of familie oorkom.

Prof. Mark Pietroni, direkteur van veiligheid en mediese hoof van die Trust vir die Gloucestershire Hospitals NHS-stigting, het sy innige simpatie met die familie se verlies uitgespreek. “Ons sal nou die lykskouer se bevindings bestudeer en dit ernstig oorweeg sodat ons die implikasies daarin vervat deeglik kan verstaan.”

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.