Prins William en Kate Middleton, hertogin van Cambridge, het Maandag ʼn prinsie ryker geword.
Die Kensington-paleis het op sy Twitter-profiel aangekondig die babaseun weeg ongeveer 3,9 kg en is omstreeks 11:00 (Britse tyd) gebore. Die naam van die seuntjie is nog nie bekendgemaak nie.
“Dit gaan goed met die hertogin en haar baba,” lui die Twitter-inskrywing.
Die paleis het vroeg Maandagoggend bekendgemaak dat die hertogin in die vroeë stadiums van kraam na die St. Mary-hospitaal in Paddington in Londen gehaas is. Sy is saam met William in ʼn motor na die Lindo-vleuel van dié hospitaal geneem.
Die egpaar het in September verlede jaar aangekondig dat hulle nog ʼn koninklike bondel ryker gaan word. Die nuus is bekendgemaak kort nadat daar hulde gebring is aan prinses Diana, William en sy broer, prins Harry, se ma, wat op 31 Augustus 1997 in ʼn motorongeluk in Parys dood is.
Kate en William het reeds twee kinders, prins George en prinses Charlotte.
George is op 22 Julie 2013 in die St. Mary-hospitaal gebore en Charlotte op 2 Mei 2015 in dieselfde hospitaal.
baie geluk met die nuus, vrede en vreugde in die paleis
Baie geluk aan die mooi egpaar. Ek wens daai mooi gesin net die beste toe.
Baie geluk. Mag hy vir julle baie vreugde bring. Twee pragtige jong mense met ‘n mooi gesin. Hulle Ouma Diana sou darem baie trots en bly gewees het.
Baie geluk julle twee. Ek is seker ouma Diana sou baie trots op julle gewees het en haar kleinkinders.