Kunsmatige intelligensie help om wilde diere te red

‘n Krap steek ‘n pad in die weste van Rio de Janeiro oor. Soveel as 16 wilde diere word elke sekonde op pad in Brasilië doodgery. (Foto: Tercio Teixeira/AFP)

Soveel as 16 wilde diere word elke sekonde op pad in Brasilië doodgery.

Die syfers het ʼn jong rekenaarwetenskaplike laat besluit om kunsmatige intelligensie (KI) in te span om motoriste betyds te waarsku van diere wat hul pad oorsteek. Dit is ʼn futuristiese oplossing wat kan help om ʼn alledaagse probleem, met verreikende ekologiese gevolge, te bekamp.

Volgens die Brasiliaanse sentrum vir pad-ekologie (Center for Road Ecology, CBEE) vrek sowat 475 miljoen gewerwelde diere jaarliks op dié land se paaie. Dit is meestal kleiner spesies soos kapibaras, gordeldiere en opossums wat die ergste geraak word.

“Dit is die grootste direkte impak op die natuurlewe vandag in Brasilië,” het Alex Bager, CBEE-koördineerder, aan AFP gesê.

Die syfers oor die bloedbad op die paaie van die wêreld se mees biodiverse land, het Gabriel Souto Ferrante, ʼn rekenaarwetenskapstudent tot aksie oorgehaal.

Ferrante (25), wat ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Sao Paulo (USP) volg, het begin deur die vyf medium- en groot spesies te identifiseer wat waarskynlik die slagoffer van verkeersongelukke kan wees: die poema, die reusemiervreter, die tapir, die maanhaarwolf en die jaguarundi, ʼn soort klein wildekat.

Daarna het hy ʼn databasis met duisende beelde van hierdie diere geskep en ‘n KI-model opgelei om hulle intyds te herken.

Talle toetse het gevolg en was suksesvol om die diere te herken en motoriste te waarsku, volgens die resultate van sy pogings wat onlangs in die joernaal Scientific Reports gepubliseer is.

Vir die projek om ʼn werklikheid te word, het Ferrante gesê wetenskaplikes sal “ondersteuning benodig van die maatskappye wat die paaie bestuur”, insluitend toegang tot verkeerskameras en edge computing-toestelle – hardeware wat ʼn intydse waarskuwing aan bestuurders soos sommige navigasie-apps kan oordra.

Daar sal ook insette van die padkonsessiemaatskappye moet wees “om die dier te verwyder of dit te vang”.

Boonop hoop hy die tegnologie kan ook mense se lewens red as tref-en-trap-ongelukke met wild verminder word.

Meer paaie, meer voertuie

Bager het gesê talle ander strategieë om die bloedvergieting op Brasiliaanse paaie te stop, het misluk.

Borde wat bestuurders waarsku om op die uitkyk te wees vir diere wat die paaie oorsteek, het maar min impak en lei maar tot ʼn gemiddelde spoedvermindering van slegs 3%.

Daar is ook sogenaamde fauna-brûe en -tonnels wat bedoel is om diere veilig van die een kant van die pad na die ander te kry, asook heinings om hulle in te hok. Alle hierdie meganismes was tot dusver onvoldoende om die omvang van die probleem te bekamp.

Bager het in 2014 ʼn app genaamd Urubu saam met ander ekoloë ontwikkel, wat voorsiening maak vir die identifisering punte waar die meeste wild getref word. Duisende gebruikers het gehelp om inligting vir die app te verskaf.

Die projek het gehelp om openbare bewustheid te skep en het selfs ʼn wetsontwerp op veilige dierekruising en -sirkulasie geïnspireer, wat op ʼn stemming in die Brasiliaanse kongres wag.

ʼn Gebrek aan geld het veroorsaak dat die app verlede jaar gesluit is, maar Bager is van plan om dit te laat heraktiveer.

“Ons het meer en meer paaie, meer voertuie, en dit beteken die aantal wilde diere wat op paaie doodgery word in alle waarskynlikheid sal aanhou groei as daar nie ingegryp word nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.