Die laaste wrakstukke van die Maleisiese passasiersvliegtuig, vlug MH17 wat in Julie oor Oekraïne afgeskiet is, het in Nederland aangekom.
Vier vragmotors het die grens met Duitsland Dinsdagoggend oorgesteek, en word deur die polisie begelei.
Die wrakstukke word na die lugmagbasis Gilze-Rijen geneem waar die vliegtuig in ‘n vakante vliegtuigloods uit die wrakstukke gerekonstrueer gaan word. Elke wrakstuk sal egter eers deeglik ondersoek word, gefotografeer en geskandeer word.
Die insameling van die wrakstukke is lank vertraag weens gevegte tussen die weermag van Oekraïne en rebelle in die omgewing waar die vliegtuig met 298 insittendes neergestort het.
Die rebelle word daarvan beskuldig dat hulle die vliegtuig met ‘n missielstelsel neergeskiet het wat deur Rusland in die ooste van Oekraïne ingesmokkel is, en weer na die skietery uitgeneem is. Rusland beskuldig egter Oekraïne van die neerskiet van die vliegtuig.
Lees die volledige berig in Trouw.