Minstens 10 dood toe gebou ineenstort

Reddingswerkers soek na oorlewendes in die puin. (Foto: Praful Gangurde/AP)

Minstens 10 mense is dood nadat ʼn residensiële gebou in Indië wat opknappingswerk sou ondergaan het, Maandag ineengestort het. Talle mense is ook beseer.

Tussen 20 en 25 mense is vermoedelik nog onder die puin van die vierverdiepinggebou in die Maharashtra-staat vasgekeer, het Indië se nasionale rampreaksiemag gesê. Die gebou het omstreeks 04:00 ineengestort.

Satya Narayan Pradhan, direkteur-generaal van dié reaksiemag, het foto’s en video’s van die reddingspoging op Twitter gedeel en gesê tot dusver is agt oorlewendes, onder wie ʼn sewejarige seun, uit die puin gered. Volgens Pradhan gaan hulle waarskynlik nóg oorlewendes vind.

Die beeldmateriaal wys hoe reddingswerkers die kind en verskeie ander mense uit die rommel lig en water gee om te drink.

‘n Inwoner word uit die puin gered. Reddingswerkers hoop om nog oorlewendes op te spoor. (Foto: Praful Gangurde/AP)

Pankaj Ashiya, kommissaris van die dorp Bhiwandi in die Thane-distrik, het gesê minstens 11 mense is beseer toe die gebou meegegee het. Volgens Ashiya is die gebou meer as 30 jaar oud en moes dit opknappingswerk ondergaan. Weens die Covid-19-pandemie is die opknappingswerk nie gedoen nie.

Narendra Modi, Indiese eerste minister, het op Twitter sy medelye met die slagoffers betuig. “Ons bid vir die spoedige herstel van die beseerdes. Reddingswerk duur voort en alle moontlike hulp word aan die slagoffers gebied,” het hy geskryf.

Die gebou, wat uit verskeie woonstelle bestaan en minstens 25 gesinne huisves, is geleë in ʼn dig bevolkte gedeelte van Bhiwandi. Die Maharashtra-staat se regering het gesê diegene wat deur die ramp geraak is, sal sowat R112 000 in skadevergoeding ontvang.

Maharashtra is een van die Indiese state wat die swaarste deur die Covid-19-pandemie getref is en meer as ʼn miljoen gevalle is daar aangemeld. Indië het reeds meer as 5,4 miljoen bevestigde Covid-19-gevalle aangeteken.

Geboue wat ineenstort is ʼn alledaagse verskynsel tydens die Indiese moesonreënseisoen tussen Junie en September, wanneer swaar reën die fondamente van swak geboude strukture of ou geboue verswak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.