Minstens 10 dood toe tifoon tref

Filippyne (Foto: Eduardo Davad/Pixabay)

Minstens 10 persone is in die Filippyne dood in ongelukke weens tifoon Phanfone wat die oostelike en sentrale deel van die land op Kersdag getref het.

Ses persone word vermis in die Iloilo-prvinsie, 463 km suid van Manila, een van die gebiede wat sedert 24 Desember die ergste deurgeloop het onder Phanfone se verwoestende winde en swaar reën, het plaaslike owerhede Donderdag gesê.

Die 10 sterfgevalle is in Iloilo, Leyte en Capiz aangemeld, maar plaaslike owerhede kon nog nie besonderhede gee oor die slagoffers en die omstandighede van hul sterfgevalle nie.

Phanfone het intussen verswak terwyl dit oor die Filippyne beweeg het na die Suid-Chinese see, het die weerburo gesê.

Winde van 130 km/h is Donderdag aangemeld met rukwinde van tot 160 km/h.

Meer as 24 000 persone is gestrand gelaat in hawens toe die kuswag alle veerbootaktiwiteit opgeskort het. Minstens 115 plaaslike vlugte is ook gekanselleer.

Meer as 58 000 persone is gedwing om hul huise te ontruim toe Phanfone dakke afgeruk, bome omgewaai en elektrisiteitspale en huise verwoes het. Modderstortings en vloede is ook in sekere gebiede aangemeld.

Dit is die 21ste sikloon wat die Filippyne vanjaar tref.

Een van die sterkste tifone wat ooit aangemeld is, tifoon Haiyan, het die land in November 2013 getref. Meer as 6 300 persone is dood en meer as 4 miljoen is haweloos gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.