Onderwyseres dagvaar vir miljoene ná skietery

Abigail Zwerner (Foto: Twitter)

Die jong onderwyseres op wie ’n sesjarige leerder in Januarie in die Amerikaanse deelstaat Virginië losgebrand het, dagvaar nou die skool vir $40 miljoen (sowat R716 miljoen).

Abigail Zwerner voer aan dat die skool se administrateurs bewus was van die leerder se “geskiedenis van willekeurige geweld”.

Zwerner voer ook in die dagvaarding aan dat die skoolraad die betrokke dag versuim het om proaktief op te tree nadat onderwysers besef het dat die leerder ’n vuurwapen in sy besit het, berig CNN.

Luidens die dagvaarding het Ebony Parker, assistenthoof by die Richneck Elementary School, “minstens drie afsonderlike waarskuwings” van onderwysers en personeel geïgnoreer nadat die seun se klasmaats hulle in kennis gestel het dat hy ’n vuurwapen by hom het.

Maroela Media het vroeër berig die seun het die vuurwapen vermoedelik aan hom gedra aangesien Zwerner dit nie in sy skoolsak gesien het nie. Personeel is egter nie toegelaat om die seun persoonlik te deursoek nie.

Parker het toe glo aan die bekommerde onderwysers gesê die seun se broek het “klein sakke” en die saak kan tot die einde van die dag wag. Hy het glo ook die onderwysers “verbied” om die sesjarige te deursoek en gesê sy “ma sal binnekort opdaag om hom te kom haal”.

Die owerhede ná die skietery by die Richneck Elementary School in die VSA. (Foto: Facebook / Dan Kennedy)

Zwerner is sowat ’n uur later in haar klaskamer geskiet. Die 25-jarige onderwyseres het die skietery oorleef, maar nog nie volkome herstel nie.

Luidens die dagvaarding het die kind gedurende die 2021-’22-skooljaar ’n onderwyseres by sy kleuterskool probeer verwurg en ’n meisieklasmaat se rok opgetrek en haar onbehoorlik op die speelterrein betas.

Onderwysers van die Richneck Elementary School het glo ook gereeld die leerder se gedrag onder die skooladministrasie se aandag gebring, maar hul “bekommernisse is altyd verontagsaam”, lui die dagvaarding.

Zwerner se prokureur beweer ook wanneer die kind na die skooladministrasiekantoor geneem is om sy gedrag aan te raak, sou hy dikwels “kort daarna na die klaskamer terugkeer met die een of ander soort beloning, soos ’n stukkie lekkergoed”.

James Ellenson, prokureur van die seun se familie, het Maandag gesê die bewerings in die regsgeding “moet met ’n stewige knippie sout geneem word”.

“Ons gaan natuurlik voort om vir me. Zwerner se volkome herstel te bid.”

Die sesjarige kind is tot op hede nie strafregtelik aangekla nie.

Parker het intussen as assistenthoof bedank en die skoolhoof, Briana Foster Newton, is na ’n ander skool oorgeplaas.

Die skoolraad sê hy werk saam met die gemeenskap om veiligheid en sekerheid by die skool aan te pak. Die dagvaarding is egter nog nie aan die skoolraad beteken nie en die raad wil daarom nie nou al kommentaar oor die regsgeding lewer nie.

“In hierdie stadium het die Newport News-skoolraad nog nie die regsdokumente ontvang nie. Wanneer die dagvaarding aan die skoolraad beteken word, sal ons dienooreenkomstig regsadvies optree en saamwerk,” het raadsamptenare in die verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

TruthDealer ·

Hoop sy wen. Dagvaar sommer die ouers ook. Om n pistool te laat rondlê waar n kind dit in die hande kan kry..laat my dink daardie ouers gee nie veel om vir hul kind se lewe, hul eie lewens of enigiemand anders sin nie. Why have they not been arrested for criminal negligence?? As hy op 6 al so is, en niemand gryp nou drasties in, in sy lewe nie, is sy voorland n lewe in die tronk. Of dit nou een lang vonnis is of verskeie kort vonnisse elke paar jaar, hy gaan nie n goeie lewe hê nie. Sterkte aan die juffrou. In SA and America..you could not pay me enough to be a teacher. Literally. I wouldn’t do it for a billion rand or dollar a month.

ES ·

Dis net jammer die skrywers van die beleid op vuurwapenbeheer in die verskillende state in die VS pas nie strenger reels toe nie. Amerika se konstitusie maak voorsiening dat elke burger die reg het om vuurwapens te besit maar hulle sal daarby baat om strenger voorwaardes vir vuurwapenbesit op te stel. Bevoegdheidslesse en sielkundige agtergrond.

Philip ·

Dit kom van “menseregte ” as jy hom nie eens kon deursoek as jy onraad vermoed nie

Gert ·

Die Amerikaanse wet op vuurwapenbeheer is siek. Elke onderwyser behoort opgelei te word in die hantering van vuurwapens, en behoort verplig te word om ‘n vuurwapen aan hulle te dra. Dan sal skoolskieters soos hierdie gou in hulle spore gestop word.

Dirk ·

Dit is duidelik dat jy nie weet waaroor hiedie gaan nie. Onderwysers is nie veronderstel om vuurwapens te hê in die skool nie. Hoekom moet dit nooit nodig wees?!

Hendrik ·

Om iemand wat nie gereeld skiet nie te dwing om ‘n vuurwapen te dra is gevaarliker as om sonder ‘n vuurwapen te wees. Jy kan nie onderwysers dwing om vuurwapens te dra nie. Baie mense sal eenvoudig net nie iemand anders kan skiet nie, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Kyk maar wat het met die 2de wereldoorlog gebeur – baie nuwe soldate het gladnie hulle wapens afgevuur nie.

Annelize ·

Dis reg, hoop sy trek vir hulle kaal uit. Sy moet sommer die ouers van die kind ook bymekaar maak. Dit kon soveel erger gewees het, daar kon meer mense daardie dag beseer gewees het, of selfs gesterf het.
Dis niks anders as growwe nalatigheid van die Skoolraad se kant af deur nie op te tree, toe hulle besef het die kind het ‘n vuurwapen nie.

SjN ·

Hoop sy wen, die leerder se ore moet op die regte manier oopgemaak word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien die skoolhoof opdrag gegee het dat die ses-jarige se broeksakke deursoek moes word sou hy waarskynlik van aanranding aangekla word. Die kind se ouers sou die skool vir miljoene dagvaar. Dis dalk beter om weg te kyk en hoop vir die beste.

Catherina ·

Kan jy glo dis n KIND wat sulke dinge doen….n KIND. Ongelooflik….

Debbie ·

Ek dink hulle sal die kind na ‘n verbeteringskool toe moet stuur. As daar nie nou ingegryp word nie, sit jy dalk met die volgende skool massamoordenaar. Aangesien die ouers nie wil gehad het dat die kind deursoek moet word nie, moet hulle die dagvaardiging aan die onderwyseres betaal. Dit kom nou van as kinders net regte maar geen verantwoordelikhede het nie. En jy mag hulle mos nie dissiplineer nie of jy “skend” hulle regte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.