Opposisie wil Zim-verkiesingsuitslae laat omkeer

Nelson Chamisa, leier van die MDC-Alliansie, praat met verslaggewers buite die Parirenyatwa-hospitaal in Harare, Zimbabwe (2 Augustus 2018). Foto: Shepard Tozvireva/African News Agency (ANA)

Nelson Chamisa, die presidentskandidaat van die Zimbabwiese opposisieparty, die MDC-Alliansie, het ʼn regspan saamgestel in ʼn poging om die pas aangekondigde verkiesingsuitslae van dié land te laat omkeer.

Nkululeko Sibanda, woordvoerder van Chamisa, het tydens ʼn mediakonferensie in Harare gesê die party sal die verklaring van die verkiesingsuitslae deur Priscilla Chigumba van die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZEC) betwis.

Chigumba het verlede week aangekondig dat Zanu PF se presidentskandidaat, Emmerson Mnangagwa, 50,8% van die stemme ontvang het, terwyl Chamisa 44,3% van die stemme gekry het. Mnangagwa bly dus aan as Zimbabwe se president.

Sibanda het egter Maandag gesê die uitslae is nie ʼn ware weerspieëling van hoe die mense van Zimbabwe gestem het nie. “Ons is nie van plan om die presidensiële uitslae te betwis nie. Ons weet dat pres. Chamisa gewen het. Ons wil slegs die uitslae wat aangekondig is, betwis sodat die mense van Zimbabwe die president kan kry waarvoor hulle gestem het. Chamisa is die verkose president en Mnangagwa is die aangekondigde president,” het hy gesê.

Sibanda het bygevoeg die verkiesingskommissie het “besluit” Mnangagwa is die wenner van die verkiesing in teenstelling met die wil van die Zimbabwiese volk. “Die mense was beslissend in hierdie verkiesing. Ons eenvoudige taak is om die verklaring van Chigumba te laat omkeer.”

Hy het gesê Chamisa “werk saam met verskillende strukture binne en buite die party” om die verkiesingsuitslae teen te staan.

Volgens die MDC-Alliansie het die party genoeg bewyse om die verkiesingsuitslae in 20 kiesafdelings te betwis.

Ses mense is dood nadat gewelddadige skermutselings in Harare uitgebreek het toe die verkiesingsuitslae verlede week aangekondig is. Ondersteuners van die opposisie het woedend gereageer op die uitslae en aangevoer die verkiesing is nie vry en regverdig gehou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OWO ·

Een van die sterkste toewydingsplooie wat ek nog op iemand se gesig gesien het.Die plooi in die middel tussen die wenkbroue van Nelson Chamisa.Dit beteken niks en niemand gaan in sy pad staan om sy doelwitte te bereik nie.Die opskrif van die artikel is dus heel gepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.