Die voormalige internasionale sokkerster George Weah is aangewys as Liberië se 25ste president.
Die senator van die Montserrado-distrik, wat voorheen as Fifa se Wêreldspeler aangewys is en wenner van die gesogte Ballon d’or-toekenning was, het ʼn wegholoorwinning behaal oor sy 73-jarige opponent, adjunkpres. Joseph Boakai.
Volgens berigte het Jerome Korkoyah, voorsitter van die nasionale verkiesingskommissie, gesê met 98,1% van die stemme wat getel is, het Weah met 61,5% teenoor Boakai se 38,5% as oorwinnaar uit die stryd getree. Die finale verkiesingsuitslae sal na verwagting vandag bekendgemaak word.
Liberië se eerste vroulike staatshoof, die 79-jarige Ellen Johnson Sirleaf, ʼn Nobelpryswenner, tree uit en laat ʼn arm land agter wat steeds steier onder die gevolge van vorige oorloë en die dodelike Ebola-uitbreking.