Sportmanne in afsondering: Hop, hop, hop sink Pollock sy kolhou

Shaun Pollock (Foto: Skermgreep uit sy video)

Die afsonderingstydperk, om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp, beteken dat sportsterre ook by die huis moet bly. Dit beteken egter nie dat hulle steeds hul toorkunsies kan uitstal nie, óf uitdagings van ander sportsterre kan aanvaar nie.

  • Die voormalige veelsydige ster van die Proteas, Shaun Pollock, het ’n video op sy Twitter-rekening geplaas waar hy met sy gholfvaardighede in sy huis spog.

Die 46-jarige Pollock is ’n gholfliefhebber en in sy video het hy vier krieketkolwe strategies op die vloer voor die ‘putjie’ geplaas. Hy neem plegtig stelling in voor ’n klavier in sy leefarea en laat waai.

Die helderkleurige balletjie het vrolik op elke kolf – wat se hoeke perfek gedraai is – gebons tot dit in die gaatjie gehop het.

’n Verheugde Pollock vier daarna sy kolhou.

  • Die Serwiese tennisheld, Novak Djokovic, het saam met sy vrou Jelena, Andy Murray se uitdaging aanvaar.

Murray het gestipuleer dat die Djokovic-egpaar ’n tennisbal 100 keer tussen mekaar moet bons, sonder dat dit die grond tref, natuurlik.

Terwyl Bruno Mars se “Uptown Funk” vrolik in die agtergrond speel, het hulle die taak suksesvol voltooi.

“Dit was tot dusver die lekkerste oomblik van die dag,” het ’n glimlaggende Djokovic gesê. “As jy enige ander uitdagings het, stuur dit gerus. Ons het nou baie tyd op hande!”

  • Roger Federer het weer ’n video uitgereik waar hy sy tennistalent ten toon stel.

Die 38-jarige het sommer terselfdertyd sy ondersteuners aangemoedig om iets soortgelyks te doen en hy sal dan vir hulle raad gee.

’n Hele paar mense het reeds sy uitdaging aanvaar en die goedhartige speler het op elke video kommentaar gelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.