Twee sterk aardskuddings het Griekeland minder as ’n honderd kilometer van die hoofstad, Athene, getref. Die sterkste skudding het 5,4 op die momentmagnitudeskaal geregistreer en die episentrum was net sewe kilometer van Prokopion. Die verskuiwing het 13 kilometer onder die oppervlak voorgekom.
Die ander skudding van M 5,3 se episentrum was 10 kilometer diep en agt kilometer van Limni. Dit was die sesde betreklike sterk aardbewing die afgelope maand in Griekeland.
Nog geen berigte van skade is ontvang nie.
Twee van die aardbewings was aan die anderkant van Griekeland naby Lixourion, en kan steeds as naskokke van ’n verwoestende aardbewing van M6,1 beskou word wat die eiland op 3 Februarie vanjaar getref het. Reuse skade is aan geboue en infrastruktuur aangerig.
Die sterkste aardbewing die afgelope 24 uur, M 6,2, het naby die Port Edwardeilande sowat 1 500 kilometer suidoos van Port Alfred plaasgevind.
Bron: USGS