Transgender spelers ook van internasionale vrouerugby uitgesluit

(Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Die Internasionale Rugbyliga (IRL) het transgender spelers van internasionale vrouewedstryde verbied terwyl ʼn “omvattende insluitingsbeleid” ontwikkel word.

Die besluit kom nadat Fina, die wêreldbeheerliggaam van swem, ten gunste van ʼn sogenaamde “oop kategorie” vir transgender swemmers gestem het, wat beteken dat die swemmers as deel van ʼn nuwe beleid voortaan verbied sal word om aan die vroue se elite-resies deel te neem.

Die IRL het gesê hy sal wyer raadpleeg en verdere navorsing doen om ’n nuwe beleid vir 2023 te finaliseer. Tot dan mag transgender spelers nie aan goedgekeurde internasionale rugbyliga-wedstryde vir vroue deelneem nie.

Die besluit beteken transgender atlete sal nie aan vanjaar se Wêreldbekertoernooi vir vroue in November in Engeland mag deelneem nie.

Atletiek en fietsry kan volg

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het intussen ook te kenne gegee dat die liggaam moontlik ’n strenger beleid kan instel oor transgender atlete wat aan vroue-items deelneem.

“My verantwoordelikheid is om die integriteit van vrouesport te beskerm en ons neem dit baie ernstig op, en as dit beteken dat ons vorentoe aanpassings aan protokolle moet maak, sal ons,” het Coe gesê.

Coe het gesê biologie “troef geslag” en dat atletiek sal voortgaan om sy reëls in ooreenstemming hiermee te hersien.

Ingevolge Wêreldatletiekreëls moet transgender vroue vir minstens 12 maande voor kompetisies wys hulle het lae testosteroonvlakke.

Die Wêreld-fietsryunie (UCI), fietsry se beheerliggaam, het ook sy reëls rakende transgender ryers se deelname verskerp deur die tydperk te verdubbel voordat ’n ryer wat van manlik na vroulik oorskakel, kan meeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.