Zelenski waarsku oor voedselkrisis

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP/ Oekraïense presidensie)

Wolodimir Zelenski, die president van Oekraïne, het Saterdag internasionale druk versoek om ʼn einde te bring aan Rusland se blokkade by hawens in die Swartsee wat sy land se graanuitvoere verhoed. Dit kan ʼn wêreldwye voedselkrisis tot gevolg hê.

Voor Rusland se inval was Oekraïne die wêreld se grootste vervaardiger van sonneblomolie en ʼn groot graanuitvoerder, maar miljoene ton graan kan weens die versperring nie uitgevoer word nie.

Die Verenigde Nasies en sommige lande probeer druk uitvoer dat ʼn maritieme deurgang oopgemaak word sodat uitvoere kan hervat.

“Die wêreld kan deur ʼn akute en ernstige voedselkrisis en hongersnood in die gesig gestaar word in talle lande van Asië en Afrika,” het Zelenski in ʼn regstreekse toespraak gesê aan die Shangri-La Dialoogveiligheidsberaad in Singapoer.

“Die tekorte aan voedsel sal uiteindelik tot politieke chaos lei en dit kan die ineenstorting van talle regerings en ontseteling van talle politici veroorsaak,” het hy aan afgevaardigdes gesê, insluitend die hoof van die Pentagon Lloyd Austin en China se minister van verdediging.

“Dit is maklik om die bedreiging te sien as mens net kyk na die verhoogde pryse van basiese produkte in die wêreldmarkte en in sekere lande. Dit is die direkte gevolg van die optrede van die Russiese staat.”

Zelenski het die internasionale gemeenskap gemaan om “die volle mag van die internasionale wet te herstel” wat bestaan het voor die inval op 24 Februarie.

Kiëf is in gesprek met die VN, Turkye en ander lande om ʼn weg te baan vir die graanuitvoere. Zelenski sê die gesprekke fokus op die “formaat” van die deurgang.

Die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrow en sy Turkse eweknie het vandeesweek in Ankara vergader oor ʼn veilige deurgang vir graanuitvoere uit Oekraïne, maar die gesprekke het nie goeie vordering gemaak nie.

Zelenski het gesê Oekraïne voer tans meer as twee miljoen ton graan uit per maand via spoor, maar dit is nie genoeg nie. Hy het Rusland daarvan beskuldig dat die land poog om graanpryse selfs nog meer op te stoor, en sê die land het dieselfde met energie gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.