Elgar maak litte los vir Indiese boulers

Dean Elgar. Foto: © Christiaan Kotze/C& C Photographic Agency

Die Proteas, weliswaar sonder ’n hele paar sterre, speel vandeesweek ’n paar eendagwedstryde teen ’n besoekende Nederlandse span.

Die groot uitdaging wag in Desember wanneer Indië hier vir ’n paar toetse, eendag- en T20-wedstryde is.

Goeie nuus vir die Proteas is dat hul toetskaptein, Dean Elgar, weer op dreef vir die Titans is nadat hy ’n besering in die plaaslike T20-reeks opgedoen het.

Die 34-jarige kolwer het ’n openingsvennootskap van 231 met Grant Mokoena (154) teen die Westelike Provinsie in Kaapstad gedeel.

Elgar is uiteindelik vir 117 van 159 aflewerings uitgehaal en hy het 18 grenshoue in sy beurt geslaan. Dit was nie vir hom nodig om weer sy beenskutte aan te trek nie want Simon Harmer (7/76) en Neil Brand (3/41) het toegesien dat die Pretorianers die wedstryd met ’n beurt en 139 lopies gewen het.

“Dean wou op ’n paar spesifieke goed konsentreer – soos om die bal goed dop te hou en om vanuit goeie posisies houe te speel. Hy ken sy spel en as hy meer tyd in die middel kan spandeer, sal hy vir die toetse teen Indië gereed wees,” het Mandla Mashimbyi (Titans-breier) in ’n onderhoud met Cricinfo gesê.

Elgar is in Maart as die Proteas se nuwe rooibalkrieketkaptein aangewys en hy het die aanstelling met ’n reeksoorwinning teen die Wes-Indiese Eilande gevier.

“Dean het deur die jare geen geheim van sy kapteinskapdroom gemaak nie en ons is dankbaar om ’n leier te hê wat gereed is om sy moue op te rol om die groot taak aan te pak,” het Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, destyds gesê.

Bepalings vir Indië-toer:

17 – 21 Desember 2021: Eerste toets in Johannesburg

26 – 30 Desember 2021: Tweede toets in Centurion

3 – 7 Januarie 2022: Derde toets in Kaapstad

11 Januarie 2022: Eerste eendagwedstryd in die Paarl

14 Januarie 2022: Tweede eendagwedstryd in Kaapstad

16 Januarie 2022: Derde eendagwedstryd in Kaapstad

19 Januarie 2022: Eerste T20-wedstryd in Kaapstad

21 Januarie 2022: Tweede T20-wedstryd in Kaapstad

23 Januarie 2022: Derde T20-wedstryd in die Paarl

26 Januarie 2022: Vierde T20-wedstryd in die Paarl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

4 Honderdtalle in die Titans se kolfbeurt toon net hoe swak WP krieket werklik is. Van ‘n eens trotse span na absolute sub-standaard amateur krieket in ‘n kwessie van ‘n paar jaar.

piet ·

Eerste wedstryd wat hulle verloor het, ander twee was onbeslis. Was die eerste wedstryd wat Titans gewen het, 1 verloor, 1 onbeslis. So ook maar nie te fantasties met al hul gekoopte spelers nie. Kompetisie lyk nog in ‘n vroee stadium.

Anoniem ·

Dit gaan vir my meer omtrent WP krieket se verval die afgelope aantal jare as oor ander spanne. WP het verskeie top kolwers bloot net laat gaan, soos bv die Malan broers wat nou vir Boland speel, terwyl hulle geen kolwers of boulers van formaat bygekry het nie. As ‘n span 4 honderdtalle in 1 beurt teen jou aanteken, beteken dit slegs een ding, jou bloulers is nie op standaard nie.

Anel ·

Hoop maar dit gebeur en die spul sit ons nie op vlak 5 inperking volgende week tot die einde van Januarie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.