Eerste Afrikaanse podsendingfliek kyk na verlies, lewenseisoene

(Foto: verskaf)

“Dit gaan oor verlies, nie aan ʼn persoon nie, maar aan idees en drome. Oor die seisoene in jou lewe en die proses om daardie idees en drome weer te vind.”

Só gesels Louis Janse van Rensburg, skrywer van Reisigers, die eerste Afrikaanse podsendingfliek, oor dié passieprojek wat pas die lig gesien het.

Dié unieke projek spog met die stemme van akteur Luan Jacobs en musikante Joshua na die Reën, Deon Meiring en Wernard van Zyl.

Louis se stem kan ook in die fliek gehoor word as die voorleser. Wanneer hy dink aan dit wat tot die skryf van hierdie verhaal gelei het, dink hy dadelik aan sy oorlede broer, wat jare gelede gesterf het toe hy in sy twintigerjare was.

“Mens gaan deur ʼn proses om so iets te verstaan. Jare ná sy dood het ek daaroor begin skryf, en ek het veral gewonder hoe ons lewens sou lyk as hy vandag nog geleef het.

“Dit is nie waaroor Reisigers gaan nie, maar die verlies van my broer het my laat reflekteer. Dit was die saadjie wat geplant is wat tot die storie gelei het. Hierdie fliek word opgedra aan my broer.”

As entrepreneur van Pretoria was Louis nog altyd ʼn kreatiewe persoon wat veral daarvan gehou het om draaiboeke en stories te skryf.

Baie van dié stories het uiteindelik nooit die lig gesien nie, maar daar was iets aan Reisigers wat net nie sy hart wou laat los nie, sê Louis aan Maroela Media.

Hy vertel hy het aanvanklik ʼn doodgewone fliek vir dié verhaal in gedagte gehad, maar hy moes prakties wees en het besef hy gaan sukkel om die fliek op die grootskerm te kry.

“Toe begin ek die beginsels terugwerk en dink aan die beste manier om die draaiboek tot lewe te bring. Ons het ʼn ryk geskiedenis van radiodramas en podsendings in Afrikaans, hoewel ek besef het dat hierdie podsendings meer in die formaat van onderhoude en gesprekke is.

“Daar was nie iets soos ʼn storie wat jou ingetrek het en die atmosfeer gebou het nie. Podsendingflieks is iets wat veral nou posvat in die buiteland, en ek het gedink dit is die beste manier hoe ek hierdie storie gaan lewe gee.”

(Foto: verskaf)

ʼn Groot verskil tussen ʼn radiodrama en ʼn podsendingfliek, is die feit dat daar ʼn voorleser in die fliek is, dit atmosfeer skep met unieke klanke en musiek en dit die luisteraar op ʼn baie unieke manier geboei hou.

Die fliek is geïnspireer deur flieks soos Stand By Me, The Breakfast Club en Ballade vir ʼn enkeling. Die verhaal volg vier beste vriende, Jouba, Slabs, Mario en Monty, waar hulle herenig tydens ʼn reis na hulle tuisdorp. In die proses konfronteer hulle hul toekoms as jong mans.

Louis is vandag getroud en het twee spruite, Sebastiaan, wat in graad 1 is, en Lienka, wat twee en ʼn half jaar oud is.

ʼn Mens sou dink dat sy loopbaan in die korporatiewe wêreld ver verwyder van sy lewe as skrywer is, maar eintlik maak dit sin dat sy lewe as entrepreneur en sy skrywerskant oorvleuel, sê hy.

“Om ʼn entrepreneur te wees, is ʼn baie kreatiewe ding. Ek het ʼn waardering vir details, en dit is in albei beroepe belangrik.”

Hy het lank geworstel of hy die projek wel moet aanpak.

“Ek het ʼn klein diktator op my skouer, of altans dis wat ek hom noem, en soms laat hy my baie twyfel of ek iets moet doen of nie. Ek het veral lank getwyfel dat ek die projek moet aanpak omdat ek nie in die fliekbedryf werk nie.

“Maar soms moet jy daardie diktator van jou skouer afskop.”

Vind en lusiter na Reisigers op Apple Podcasts, Spotify, Amazon Music of Youtube.

Skakels:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.