BBP-syfers, moontlike aandele in Eskom en toerismebedryf onder die loep

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

In die jongste 3 Minute, 3 Sake bespreek Gerhard van Onselen van Sakeliga die jongste BBP-data, ʼn plan om Eskom-skuldbriewe in aandele te omskep en die toerismebedryf wat steeds weens die Covid-19-pandemie ly.

Eerste: Statistieke SA het die data vir die derde kwartaal (K3) van 2020, wat die jongste bruto binnelandse produk (BBP)-syfers insluit verlede week gepubliseer.

Die amptelike koers wys op groot dalings in die tweede kwartaal en ʼn reusestyging in die derde kwartaal.

“Hierdie koerse moet egter versigtig geïnterpreteer word,” maan Van Onselen.

“Die amptelike koers is ʼn seisoenaangesuiwerde jaarkoers. Die positiewe styging in K3 dui nie BBP-groei vir die hele jaar aan nie. Dit is bloot ʼn tegniese verskynsel weens die manier waarop BBP-data gewoonlik op ʼn kwartaalgrondslag bereken word.

“Kyk dieper en die BBP in K3 van 2020 was nie beter as in K3 van 2019 nie.”

Die veronderstellings van die amptelike koers, soos sommige kenners verduidelik, is dat ʼn kwartaal-op-kwartaal groeitendens oor ʼn hele jaar toegepas word. Hierdie koers raak onduidelik wanneer uitsonderlike dinge in data gebeur – soos die reusagtige dalings weens die afsonderingstydperk in die tweede kwartaal van 2020.

Die verandering in BBP vir die jaar tot dusver oor die eerste nege maande tot September gee die beste aanduiding. Tot Desember het die BBP in 2020 met 7,9% gekrimp – ʼn reusagtige daling.

Tweede: Ingevolge ʼn plan wat aan Nedlac voorgelê is, word beoog dat sowat R280 miljard van Eskom se skuld in aandele omgeskep moet word.

Die plan vorm natuurlik deel van ʼn voorgestelde “maatskaplike verdrag”, wat sal maak dat groepe wat Eskom-skuldbriewe besit basies Eskom-aandele daarvoor gegee word.

Sulke planne het ook vantevore voorgehou om staatsdienspensioene in Eskom te sink.

Peter Attard-Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intelidex, is van mening dat so ʼn stap dadelik op verdere kredietafgraderings kan uitloop.

Skuldbriewe moet uiteindelik met rente en kapitaal terugbetaal word. Indien skuld in ekwiteite omgeskakel word sal terugbetalings afhang van dividende of gewaarborgde betalings, deur belasting. Eskom kan kwalik dividende betaal.

Sulke voorstelle sal beleggers die skrik op die lyf jaag, meen Attard-Montalto.

Laastens gesels ons oor die toedrag van sake in die toerismesektor. Hierdie bedryf is in ʼn krisis. Luidens mediaberigte was die vlak 1-verslappings in die regulasies en oopgestelde grense nie genoeg om toerisme te red nie.

Verder word daar berig dat bedrywe soos die safari-bedryf, wat ongeag die oper grense, sover, nie veel klante kon lok nie. Data van Statistieke Suid-Afrika, wys ook wat met akkommodasie-instellings se inkomste gebeur het. Beduidende herstel ontbreek.

Oor die tydperk van 2019 tot vroeg in Februarie het inkomste per maand tussen R3,4 miljard en R4,8 miljard beloop. Oor die tydperk van die afsondering het die bedryf se inkomste nooit meer as R1,44 miljard per maand gestyg nie.

Duidelik het die maatreëls tot yslike verliese in die sektor gelei. Herstel word bemoeilik deur sprake van verdere inperkings in die lig van uitlatings oor ʼn tweede vlaag van Covid-19.

Sakeliga meen sprake oor ʼn “tweede vlaag” moet met meer as net verwysing na positiewe gevalle op die PCR-virustoetse bevestig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.