Luister: Gaan op reis met die Enneagram

Johan Beukes. (Foto: verskaf)

Die proses om jou geaardheid, die motivering vir jou dade en jou persoonlikheidsvoorkeure oop te vlek, te ondersoek en te verken is ’n Christelike ontdekkingsreis wat vir talle mense lewensveranderend kan wees.

Dr. Johan Beukes, een van Suid-Afrika se bekendste lewensafrigters en kenner van die Enneagram, het by Maroela Media ingeloer om te gesels oor dié persoonlikheidsmodel en hoe dit met ’n geloofsaanslag aangepak kan word.

Die Enneagram is ’n persoonlikheidskaart wat nege verskillende persoonlikheidstipes bevat, waarvan die tipes gewoonlik oorvleuel, mekaar aanvul en verbintenisse met mekaar het.

Die ingewikkelde dog interessante model vlek die motivering van ’n individu se dade oop en plaas veral die kollig op dít wat jy glo jy moet doen om liefde en aanvaarding van ander mense af te kry.

Dit is iets wat Beukes gehelp het op sy persoonlike reis om mense en homself beter te verstaan.

“Die Enneagram ondersoek wat ten diepste jou motivering is. Onder die motivering lê daar ’n beeld van God. Dis vir my ’n waardevolle instrument wat ek baie versigtig hanteer.”

Die model het ook ’n noue verbintenis met Christenskap en is vir talle mense in geloof gewortel.

“As ’n gelowige wys die Enneagram vir my dat ek iets van ’n sondige natuur het. Dit wys my dat ek nie noodwendig onvoorwaardelike liefde kan ervaar nie, elk het ’n strategie om dit te probeer verkry. Die strategie is dikwels ten koste van myself en ten koste van die mense rondom my.”

Beukes vertel dat dié model dikwels gebruik word by sakeondernemings om persoonlikheidsprofiele van werknemers te verstaan. Dit, meen hy, is egter nie ideaal nie omdat ’n mens eintlik op ’n lang ontdekkingsreis gaan wanneer jy aan die Enneagram voorgestel word.

Dit is een wat met geduld, empatie met jouself en kwesbaarheid gepaard gaan. Daarom, sê Beukes, is dit belangrik om jou naaste Enneagram-afrigter op te soek en sessies saam met hom of haar deur te trap.

Wat die Enneagram anders as ander persoonlikheidsmodelle maak, is dat die resultate dalk onder jou vel in kan klim, jy is dikwels nie gemaklik met dit wat jy deur die loop van die proses oor jouself uitvind nie.

“Dit wys vir jou jou skadukant, waarmee jy dalk nie so gemaklik is nie. Dit is egter deel van jou reis na heelheid toe.”

Hy benadruk ook dat die Enneagram nie iets is waarin ’n mens in stereotipes verstrengel kan raak nie, maar dat dit naderhand jou tuiste word.

  • Luister boaan die artikel na die onderhoud met dr. Johan Beukes om meer oor die Enneagram en die verskillende persoonlikheidstipes uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.