Luister in 3 minute: Moeilike saketoestande vir restaurante; BBP val

Restaurante ervaar talle praktiese probleme met die nuwe regulasies wat vir dié bedryf uitgereik is. (Foto: Pixabay)

Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, bespreek in die jongste 3 Minute, 3 Sake die bruto binnelandse produk (BBP) wat met 2% in die eerste kwartaal geval het.

Hy kyk ook na Sakeliga se jongste meningspeiling wat steeds moeilike toestande vir sakeondernemings skets en die nuwe verslapping op afsonderingsregulasies wat nie genoeg is vir restaurante om suksesvol sake voort te kan sit nie.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste vrystelling het die BBP in die eerste kwartaal van 2020 met sowat 2% gekrimp. Aangesien die staat van algehele afsondering eers teen einde Maart begin is, sal die tweede kwartaal se syfers veel erger vertoon. Volgens berigte verwag die Suid-Afrikaanse Reserwebank dat dié koers in die tweede kwartaal met amper 33% kan krimp.

Bruto vaste belegging, ʼn baie belangrike aanduiding van belegging in die ekonomie, het met meer as 20% gekrimp.

“Selfs in die konteks van die afgelope jare se agteruitgang van die sake-omgewing is sulke syfers bykans ongekend. Vir 2019 in geheel het die BBP met slegs 0,2% toegeneem. Groei was swak nog voor Covid-19. Die volharding in twyfelagtige Covid-19-regulasies sal nou beslis daarin slaag om talle ondernemings en ekonomiese groei verder te belemmer,” het Van Onselen gesê.

Daarna kyk hy na die uitslae van Sakeliga se vierde Covid-19-impakpeiling. Hierdie peiling vorm deel van opnames onder die lede van Sakeliga en sy netwerk en die verslag word binnekort vrygestel.

“Hoewel toestande en vooruitsigte vroeg in vlak 3 van afsondering matig verbeter het, is die probleme vir baie ondernemings steeds nie verby nie. In Junie was diegene wat beter toestande aangedui het amper gelykop met dié wat slegter toestande aangedui het. In Mei was die oorwig beslis by slegter,” het hy gesê.

Van Onselen voeg by dat ʼn groter segment van die deelnemers ook matig meer positief oor vooruitsigte in Junie was.

“Tog sien ons steeds dat sowat twee uit tien van die respondente baie swakker toestande aangedui het. Hoewel amper agt uit elke tien deelnemers wys dat hulle ondernemings kon sake doen, het slegs twee uit tien ten volle handelskapasiteit. Omtrent 16% het gemeen dat dit nog nie lonend was om oop te maak nie. Die probleme is duidelik nog nie agter die rug nie.”

Van Onselen het bygevoeg dat restaurante steeds talle praktiese probleme met sekere inperkingsmaatreëls, selfs ná die verslapping daarvan, ondervind.

Rapport berig dat tot ʼn derde van eetplekke steeds nie die afsondering sal kan oorleef nie. Redes daarvoor is die volgehoue verbod op die bediening van drank. Daarby mag restaurante net beperkte sitplekke oopstel.

“Sinvol of nie, sulke reëls maak heelwat ondernemings se sakemodelle ongelukkig nie lewensvatbaar nie. Uiteraard dra kos- en drankverkope by tot ʼn restaurant se sakemodel. Indien drank ʼn noemenswaardige bydrae maak, sal die verbod die betrokke onderneming kelder.

“Christian Maiorana van die Tshwane-toerismevereniging meen die nuwe toelatings help min en hy vertel van heelwat eetplekke wat dit nie as die moeite werd beskou om oop te maak nie. Dit stem ooreen met dít wat ons in Sakeliga se peiling sien.”

Sakeliga meen ander maatreëls kon ook oorweeg word. “Die regulasies kon byvoorbeeld eerder drankies by restaurante tot twee per persoon beperk, wat die skade vir sulke ondernemings kon beperk het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.