Gholf: Miljoene vir Louis en kie in Adelaide

Suid-Afrika se Dean Burmester en Louis Oosthuizen vier die Stinger-span se oorwinning vroeër die maand in Miami, Florida. (Foto: Megan Briggs / AFp)

ʼn Tweede plek in die spanafdeling ná ’n uitspeelstryd oor twee putjies asook ʼn tweede plek en twee derde plekke in die individuele afdeling het Sondagoggend ʼn goue betaaldag van miljoene aan die vier Suid-Afrikaners in Adelaide se LIV-uitnodigingstoernooi besorg.

Die toernooi, oor drie rondes, is deur Brendan Steele (198, -18) gewen met Louis Oosthuizen (199, -17) in die tweede plek. Dean Burmester en Charl Schwartzel was saam derde (200, -16).

Branden Grace het op -6 in die 40ste plek klaargemaak.

Die Suid-Afrikaners se Stinger-span het saam met die Aussies se Rippers eerste in die spanafdeling geëindig, wat ʼn uitspeelstryd vir die eerste keer in 28 LIV-toernooie tot gevolg gehad het.

Oosthuizen en Burmester het albei met voëltjie-sethoue op die eerste uitspeelputjie misluk en op die tweede uitspeelputjie het albei se naderhoue in die sandkuil langs die setperk beland. Dit het die deur vir oorwinning vir die Aussies se Cameron Smith en Marc Leishman oopgemaak.

Dean Burmester en Charl Schwartzel (op die foto) was saam derde in Adelaide se LIV-uitnodigingstoernooi. (Foto: Brenton Edwards / AFP)

* In die Suid-Afrikaanse Ope-toernooi vir vroue wat op Erinvale in Somerset-Wes beslis is, het die Belg Manon de Roey die toernooi met ʼn telling van 202 (-14) met drie houe gewen.

Ines Laklalech (Marokko) was tweede op 205 (-11) gevolg deur Lisa Petterssen van Swede (206, -10) en Momoka Kobori van Australië op 207 (-9).

Suid-Afrika se Nicole Garcia het met 64 houe in die laaste ronde na vore geskiet en op 209 (-7) sewende geëindig.

Casandra Alexander was in die derde ronde ook baie goed op dreef (66) en het op 214 (-2) klaargemaak.

Haar landgenote Stacy Lee Bregman (216), Lora Assad (216), Danielle du Toit (218), Tyra Griebenow (223) en Lee-Anne Pace (224) het ook skaflik gevaar.

*  In die IPS Handa-kampioenskap wat deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks), het Suid-Afrika se Caysey Jarvis, wat ná die derde ronde voor was, Sondagoggend tot die 18de posisie uitgesak nadat hy 74 houe in die laaste ronde aangeteken het.

Hy het saam met Brandon Stone op 271 geëindig.

Die toernooi, wat by die Taiheiyo Club Gotemba by berg Foedji in Japan aangebied is, is deur Yuto Katsuragawa van Japan gewen wat op 263 houe (-17) geëindig het.

Hy is in die tweede plek gevolg deur Sebastian Söderberg van Swede (266, -14) met Marcel Schneider van Duitsland, Ivan Cantero (Spanje) en Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout saam derde op 268 (-12).

Bezuidenhout het 65 houe in die laaste ronde aangeteken.

Bronne: The Golf Channel en BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.