Luister in 3 minute: Voorsieningsketting, krag ontwrig

(Foto: pixabay)

In vandeesweek se 3 Minute, 3 Sake gesels Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, oor die wêreldwye ontwrigting van die voorsieningsketting. Hy praat ook oor beurtkrag en ʼn hofuitspraak wat elektrisiteitsekerheid op plaaslike vlak sal help verseker.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek verwys vandeesweek na die ontwrigting van voorsieningskettings oor die wêreld heen. Dit volg in die nadraai van die Covid-19-inperkings. Ons sien nou verskeie voorbeelde van ontwrigting.

In die nadraai het lande oor die wêreld (Suid-Afrika ook) gepoog om verbruikersvraag aan te jaag, byvoorbeeld by wyse van dinge soos toelaes. Die probleem is egter dat daar twee kante aan die ekonomie is. As’t ware is vraag die een kant, maar voorsiening en produksie is die ander kant.

Agustin Carstens, van die BIS (Bank for International Settlements), tydens ʼn onlangse konferensie dat meer gedoen moet word om ernstige ontwrigting van voorsiening hok te slaan. Hy vra vir oop markte en ʼn wegdraai van proteksionistiese beleid. Suid-Afrika handhaaf tans sy eie vorm van proteksionisme veral in voorkeurverkryging deur middel van toenemende plaaslike vereistes

Indien komplekse stelsels van voorsiening ontwrig word, skep dit skaarsheid en probleme. Regerings kan deesdae miskien ʼn gedrukte geldjie in jou hand steek, maar dit kan nie nuwe produkte of dienste uit die niet optower nie. Dit moet gemaak word.

Ontwrigting van voorsiening kan dus ʼn rol speel by duurder lewenskoste of inflasie.

Volgende: Beurtkrag is onlangs weer in Suid-Afrika ingestel. Dit lyk of probleme by Eskom nog lank met ons sal wees. Deel van die probleem is ou kragstasies, maar dit lyk ook of beleidsrompslomp ook nog ʼn groot rol speel.

Jan Oberholzer, Eskom se bestuurhoof, wys op ʼn lopende tekort van tussen 4 000 en 6 000 megawatt. Oberholzer meen die regering beweeg te stadig met sy noodkragplan.

Die omstrede Turkse Kragskepe wag steeds op goedkeuring en word deur omgewingsgroepe teengestaan. Daarby word heelwat druk vir “groen” krag op dié sektor uitgeoefen. Intussen verouder die steenkoolkragstasies wat steeds die sentrale rol by die lewering van elektrisiteit speel.

Elke vorm van elektrisiteit kan ʼn rol speel. Sakeliga is egter bekommerd oor die sukses van groot gesentraliseerde en burokratiese kragplanne.

Die verlede wys dat sentrale beplanning en monopolistiese benaderings probleme het. Hoekom sal dit anders wees in Suid-Afrika se elektrisiteitsektor?

Om die kragsektor te red moet groter mededinging, private alternatiewe, minder regeringsburokrasie, en meer innovering losgemaak word. Dit kan gebeur, maar nie met onoorkombare beleidsrompslomp nie.

En laaste, ʼn onlangse uitspraak deur die Konstitusionele Hof verseker groter elektrisiteitsekerheid op munisipale vlak. Die hof het Eskom se verlof tot appèl van die hand gewys. Eskom wou teen die Resilient- en Sabie-uitsprake appelleer.

Sakeliga het as vriend van die hof toegetree. Die volgende is die gevolg: Eerstens bied die uitspraak elektrisiteitsekerheid op plaaslike vlak. Eskom word verhoed om eindgebruikers se krag af te sny as ʼn taktiek om munisipale skuld te verhaal.

Die uitspraak verplig alle staatsinstellings – en nie net Eskom en munisipaliteite nie –  om interregeringsgeskilbeslegting te volg eerder as om betalende private, derdepartye, soos betalende eindverbruikers, te benadeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.