As jy weer Ius is om mense vir ’n laat-ontbyt oor te nooi, is hierdie gereg dalk net die ding om voor te sit. Die voorbereiding (sowat 30 minute) kan vooraf gedoen word . Bak die eiers net voor jy dit wil voorsit.
Lewer 6 porsies
Bestanddele:
- 10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
- 250 g spekrepies
- 1 klein ui, gehalveer en in dun skyfies gesny
- 125 g sampioene, in skyfies gesny
- 10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie
- suurlemoensap, sout en peper
- 6 gemarineerde songedroogde tamaties, in skyfies gesny
- 6 eiers
- 30 ml (2 e) gekapte vars grasuie
- ’n handvol vars roketblare om voor te sit
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 6 groot ramekins (oondbakkies) van 100-125 ml elk met ’n bietjie van die oIie. Voer elke bakkie met ’n paar repe spek uit en pak dit op ’n bakplaat (’n muffinpan kan ook gebruik word).
- Verhit die res van die olie in ’n braaipan en soteer die ui en sampioene saam met die kruie tot sag. Geur na smaak.
- Verdeel die mengsel tussen die 6 bakkies en sit die songedroogde tamaties bo-op. Breek ’n eier bo-oor in elke bakkie. Bedek elke bakkie liggies met aluminiumfoelie.
- Bak vir 10-15 minute of totdat die eier na voorkeur gestol het. Strooi die grasuie bo-oor en sit met roketblare en roosterbrood voor.
Bron: Maak Vyf: 1 Bestanddeel = 5 Resepte
Uitgewer: Human & Rousseau