Anderson op koers om in Grand Slam te speel

’n Argieffoto van Kevin Anderson. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images North America via AFP)

Die 37-jarige Kevin Anderson is op koers om weer in die Amerikaanse Ope te speel; dieselfde Grand Slam-toernooi wat hy in 2017 teen Rafael Nadal in die eindstryd met 6-3, 6-3 en 6-4 verloor het.

Die Suid-Afrikaner het Dinsdag 12 kishoue teen Oleksii Krutykh afgevuur om hul kwalifiseringswedstryd met 6-3 en 7-5 te wen. Hy sal nou volgende teen Tomas Machac van Slowakye te staan kom.

Anderson het in 2022 sy amptelike uittrede aangekondig, maar het vanjaar aangedui dat hy weer lus is om sy raket op die internasionale verhoog rond te swaai.

Hy het in Julie tot die kwarteindstryd van die Hall of Fame-toernooi in Newport gevorder waar hy teen Frankryk se Ugo Humbert verloor het.

Volgens Anderson het ʼn gesprek met Roger Federer sy terugkeerplanne ʼn definitiewe hupstoot gegee.

“Ek en ʼn vriend het besluit om ʼn paar tennisballe by die plaaslike baan in Delray Beach te gaan slaan, toe Roger ʼn draai kom maak het,” het hy in ʼn onderhoud met ATP.com gesê.

Die Switserse tennislegende het sy agent, Tony Godsick, in die VSA besoek.

Anderson het erken dat hy aanvanklik ʼn bietjie op sy senuwees was om met die wenner van 20 Grand Slam-titels te gesels, maar soos wat die gesprek gevorder het, was hy ál meer op sy gemak.

“Dit was fassinerend om na hom te luister. Hy is waarskynlik die beste speler nog – veral as ʼn mens van sy suiwer houespel praat – en dit was ʼn ongelooflike ervaring om sy insette te kry.”

Die Suid-Afrikaner het al 356 wedstryde in sy professionele loopbaan gewen, terwyl hy sewe ATP-titels agter sy naam het.

Volgens Anderson wil hy as speler wyser word namate sy nuwe loopbaanhoofstuk vorder.

“Daar gaan ʼn spul nuwe ervarings en uitdagings op my pad kom en ek wil soveel moontlik daaruit leer. Dit is ongetwyfeld die sleutel op die pad na sukses.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.