Enkelbesering hou Zverev op krukkelys

Alexander Zverev het sy enkel in die halfeindstryd van die Franse Ope teen Rafael Nadal beseer. Foto: Tomas Stevens/AFP.

Alexander Zverev, wêreldtennis se naasbeste mansspeler, sal nie by die Amerikaanse Ope in New York afslaan nie.

Die 25-jarige Duitser het in die halfeindstryd van die Franse Ope teen Rafael Nadal skeefgetrap en sy enkel lelik seergemaak. Hy het ’n rukkie later op sosiale media bevestig dat hy drie van die ligamente in sy regterenkel geskeur het.

Zverev, wat in 2020 in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Dominic Thiem vasgeval het, was ook op die operasietafel en hy het sedertdien nog nie weer aan ’n toernooi deelgeneem nie.

“My rehabilitasiewerk begin nou en ek sal alles binne my vermoë doen om sterker as ooit terug te kom!” het hy destyds op sosiale media gesê.

Sy plek in die Amerikaanse Ope sal deur die VSA se Stefan Kozlov gevul word.

Dan heers daar ook nog onsekerheid oor Novak Djokovic se deelname. Hoewel sy naam steeds op die amptelike inskrywingslys pryk, het sy inentingstatus ’n stokkie voor sy onlangse deelname in Kanada en Cincinnati gesteek.

Verskeie politieke figure het reeds hul stem oor die Serwiese speler se moontlike afwesigheid dik gemaak, terwyl John McEnroe hom bitter graag in New York sal wil sien speel.

  • Van die sterre wat deel van die Amerikaanse Ope-aksie vanaf 29 Augustus sal wees:

Daniil Medvedev, Rafael Nadal, Stefanos Tsitsipas, Casper Ruud, Carlos Alcaraz, Andrey Rublev, Felix Auger-Aliassime, Jannik Sinner, Cameron Norrie, Hubert Hurkacz, Fritz Taylor, Diego Schwartzman en Matteo Berrettini.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.