Fognini wen stryd van 35-jarige spelers

Fabio Fognini. (Foto: Twitter/Italiaanse Ope)

Fabio Fognini het die stryd van die 35-jarige spelers in Rome gewen toe hy vir Andy Murray met 6-4, 4-6 en 6-4 geklop het.

Dit was sy derde oorwinning op ʼn streep in Italië teen sy Skotse teenstander.

“Ek is baie bly om teen ʼn goeie speler soos Andy hier in Rome te wen. Nou moet ek net duim vashou dat ek vir my volgende wedstryd uitgerus sal wees sodat ek weer op alle suiers kan vuur,” het Fognini gesê.

Dan het die 38-jarige Stan Wawrinka gewys dat hy steeds honger vir sukses op die tennisbaan is toe hy met Rusland se Ilya Ivashka afgereken het.

Die eindtelling was 6-2 en 6-4 in die Switserse speler se guns.

“Ek het baie hard aan my spel gewerk om nog op hierdie vlak te speel. Dit was ʼn baie goeie openingswedstryd en ek is dankbaar om na die volgende ronde deur te dring. Ek speel vanjaar baie beter as vantevore, maar ek moet doodeenvoudig net meer wedstryde wen om my selfvertroue ʼn hupstoot te gee,” het Wawrinka gesê.

Novak Djokovic weet ook ná die eerste dag se spel wie vir hom in sy openingswedstryd wag.

Die Argentyn Tomas Etcheverry het vir Luca van Assche met 7-6 en 6-3 geklop om ʼn tweederondestryd teen die Serwiese ster af te dwing.

Uitslae:

Fabio Fognini klop Andy Murray met 6-4, 4-6 en 6-4

Alexandre Muller klop Kyle Edmund met 6-1 en 6-3

Wu Yibing klop Richard Gasquet met 3-6, 6-3 en 6-3

Thomas Etcheverry klop Luca van Assche met 7-6 en 6-3

Stan Wawrinka klop Ilya Ivashka met 6-2 en 6-4

Sloane Stephens klop Nadia Podoroska met 6-4 en 6-1

Camila Giorgi klop Arantxa Rus met 4-6, 6-2 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.