Frustrasie en toe vreugde vir Tsitsipas

Griekeland se Stefanos Tsitsipas. Foto: Martin Keep/AFP.

Daniil Medvedev en Nick Kyrgios is tans in ’n titaniese stryd om ’n plek in die derde ronde van die Australiese Ope in Melbourne gewikkel.

Die Rus het egter die oorhand nadat hy die eerste stel met 7-6 gewen het toe die vurige Aussie in die valbylstryd uit die bus geval het, terwyl hy ook in die tweede stel die septer geswaai het.

Kyrgios het so pas die derde stel met 6-4 gewen.

Medvedev is in Novak Djokovic se afwesigheid een van die gunstelinge om met die silwerware weg te stap.

Dan het ’n swetsende Stefanos Tsitsipas vir Sebastian Baez met 7-6, 6-7, 6-3 en 6-4 geklop om na die volgende ronde van die Grand Slam-toernooi deur te dring.

“Dit was glad nie maklik nie en ek moes diep delf om te wen. Daar was baie senutergende oomblikke en ’n bietjie gevloekery, maar ek is bly om in die derde ronde te wees,” het die vyfde gekeurde Griek gesê.

Andy Murray se droom om weer ’n Grand Slam-titel in te oes is egter aan skerwe nadat Taro Daniel hom met 6-4, 6-4 en 7-5 gewen het.

Die 34-jarige Murray, wat ’n paar jaar terug ’n geslaagde heupoperasie ondergaan het, het vanjaar sy eerste Australiese Ope-wedstryd sedert 2019 gewen toe hy vir Nikoloz Basilashvili in die eerste ronde geklop het.

In die vroue-afdeling het die derde gekeurde Garbine Muguruza teen die 32-jarige Alize Cornet vasgeval. Die eindtelling was 6-3 en 6-3 in die Franse speler se guns.

Uitslae:

Aryna Sabalenka (2) klop Xinyu Wang met 1-6, 6-4 en 6-2.

Clara Tauson klop Anett Kontaveit (6) met 6-2 en 6-4.

Stefanos Tsitsipas (4) klop Sebastian Baez met 7-6, 6-7, 6-3 en 6-4.

Iga Swiatek (7) klop Rebecca Peterson met 6-2 en 6-2.

Andrey Rublev (5) klop Ricardas Berankis met 6-4, 6-2 en 6-0.

Anastasia Pavlyuchenkova (10) klop Samantha Stosur met 6-2 en 6-2.

Felix Auger-Aliassime (9) klop Alejandro Davidovich Fokina met 7-6, 6-7, 7-6 en 7-6.

Roberto Bautista Agut (15) klop Philipp Kohlschreiber met 6-1, 6-0 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.