Jan, die bielie van die baan

Jan-Lennard Struff vier sy oorwinning. (Foto: Thomas Coex/AFP.)

Jan-Lennard Struff het vir ʼn klein opskudding gesorg toe hy met Stefanos Tsitsipas in die kwarteindstryd van die Madrid-ope afgereken het.

Die eindtelling was 7-6, 5-7 en 6-3 in die Duitse speler se guns.

“Dit was ʼn baie taai wedstryd en ek het vooraf geweet dat ek op my heel beste sal moet wees om vir Stefanos te klop. Ek is egter ongelooflik tevrede met my spel en baie bly dat ek gewen het,” het Struff gesê.

Die speler, wat 31ste op die amptelike ATP-ranglys is, het die wedstryd se drukkoker-oomblikke beter as sy teenstander hanteer. Hy sal nou in die halfeindstryd teen Rusland se Aslan Karatsev te staan kom.

“Aslan speel tans uitstekende tennis en hy het op ʼn drafstap met my in die kwalifiserende wedstryde vir die toernooi afgereken. Ek was toe glad nie op my beste nie en sal beslis nou daardie wedstryd ontleed.”

In die vroueafdeling lyk dit of Pole se Iga Swiatek nie sommer in haar spore gestuit sal word nie.

Die wêreld se voorste speler het verspot maklik met Veronika Kudermetova in een van die toernooi se halfeindstryde klaargespeel.

Die eindtelling was 6-1 en 6-1 in Swiatek se guns en sy speel môre in die eindstryd teen Aryna Sabalenka.

Uitslae:

Jan-Lennard Struff klop Stefanos Tsitsipas met 7-6, 5-7 en 6-3

Aslan Karatsev klop Zhang Zhizhen met 7-6 en 6-4

Iga Swiatek klop Veronika Kudermetova met 6-1 en 6-1

Aryna Sabalenka klop Maria Sakkari met 6-4 en 6-1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.