Karla se Lightning eerste op punteleer

Karla Pretorius. Foto: Twitter.

Karla Pretorius en haar Sunshine Coast Lightning-spanmaats swaai tans die septer in Australië se Suncorp Super Netball-liga.

Die Lightning het reeds ses van hul agt ligawedstryde gewen om 24 punte op die punteleer bymekaar te maak.

Die 31-jarige oudleerling van Hoërskool Zwartkop in Pretoria is vroeër as die span se kaptein aangewys en sy het ’n beduidende rol in hul onlangse oorwinning van 67 – 65 teen die Collingwood Magpies gespeel.

Suid-Afrika se ster-verdediger het in bykomende tyd twee keer die bal onderskep om ’n skoknederlaag af te weer en toe te sien dat haar span vier punte meer as hul naaste teenstander (die Giants) op die punteleer het.

Pretorius is ongetwyfeld een van wêreldnetbal se voorste spelers.

Sy is verlede jaar vir die derde agtereenvolgende keer as die Aussie-span se speler van die jaar aangewys, terwyl sy ook amok op die internasionale verhoog maak: Om die toekenning vir die beste speler by ’n Wêreldbeker-toernooi te ontvang lyk baie goed op ’n getuigskrif.

“Dit is die span se spel wat my geïnspireer het om my beste te lewer en ek is baie dankbaar vir die erkenning wat ek gekry het – dit is inderdaad ’n baie spesiale toekenning. Dit wys jou net dat Suid-Afrika oor die spelers, talent en vaardighede beskik om die beste in die wêreld aan te vat,” het Pretorius destyds gesê.

  • Suncorp-punteleer:
  1. Lightning 24 punte
  2. Giants 20 punte
  3. Swifts 20 punte
  4. Fever 16 punte
  5. Magpies 12 punte
  6. Firebirds 8 punte
  7. Thunderbirds 8 punte
  8. Vixens 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.