KI-kishoue kleur Wimbledon-aksie in

Deur Riana Crafford

(Foto: AELTC/Thomas Lovelock/POOL/AFP)

Vir al die Suid-Afrikaners wat deur Covid-19 (of die ekonomiese knelling as gevolg daarvan) gedwing word om met Jan Tuisbly se karretjie te ry, is daar goeie nuus. Die Wimbledon-organiseerders is al hoe meer op die positiewe belewing van hulle wêreldwye aanhangers ingestel.

Die 2021-toernooi beloof om ons op nuwe maniere voor ons skerms vasgenael te hou, hetsy dit nou ʼn TV of ander digitale toestel is. Dit maak dalk net so ʼn bietjie op vir die feit dat die Wimbledon-pawiljoene weens die pandemie net tot 50% van sy kapasiteit gevul mag word.

Wimbledon het ʼn tegnologie-gedrewe mediabedryf geword wat voortdurend sy vermoë om aanhangers op toenemend indrukwekkende en persoonlike maniere te verheug en by die spel te betrek, verfyn. IBM Watson se kunsmatige intelligensie (KI) lê aan die hart van hierdie digitale transformasie.

IBM Watson Media bied KI-gedrewe oplossings vir regstreekse stroming (“streaming”), korporatiewe kommunikasie, video-analise en inhoudsbestuur. Dit is ʼn bewese feit dat in tennis (en die meeste ander sportsoorte) nie alle punte ewe belangrik is nie. In 2017 het Wimbledon en IBM getoon dat KI nie net kan bepaal watter punte meer aanskoulik as ander is nie, maar dit ook in hoëgehalte hoogtepunte kan verpak wat vir die digitale en uitsaaigehore oor die wêreld heen geskik is.

Die bekendstelling van SlamTracker het ʼn nuwe era aangekondig. Dit skep outomaties-gegenereerde video’s oor die hoogtepunte van die wedstryd, dag of toernooi. Hierdie video’s is dan binne minute na die aksie gereed om gekyk te word.

Masjienleeralgoritmes verwerk onder andere statistiek soos hoeveel kishoue geslaan is. Dit word dan in vermaaklike inhoud verpak wat vinnig oor sosiale media uitgesaai of gedeel kan word. In 2017 – die eerste keer wat hierdie tegnologie gebruik is – is daar sowat 200 miljoen keer na SlamTracker se aanlyn inhoud gekyk!

KI word gebruik om deur duisende minute se wedstrydaksie te sif en dan te besluit watter dele van die spel (wat tot punte gelei het) ondersteuners in vervoering sal laat, en dus in die beeldmateriaal wat die wêreld ingestuur word, ingesluit moet word.

Wedstryddata, die skare se entoesiastiese gejuig en spelers se gesigsuitdrukkings en lyftaal word nou digitaal ontleed. Sodoende het die produksietyd vanaf ure na minute afgeneem. Die hoëgehalte inhoud word nou outomaties en blitsig direk in die hande van die digitale redakteurs geplaas.

Vir diegene wat hulle tande vir Wimbledon 2021 slyp, is daar nóg goeie nuus: Kyk uit vir die nuwe vindingryke app – Power Rankings with Watson. Spelers se vordering tydens die aanloop tot die toernooi word hiermee gemonitor. Daar word na baanoptrede (vorige oorwinnings, heldhaftige mislukkings en moontlike loopbaanbepalende oomblikke) gekyk, asook na spelers se mediadekking en sosialemedia-aanhang.

Die organiseerders hoop om die belangstelling in kragmetings waar geswore opponente van aangesig tot aangesig kom, aan te wakker. Hier is die potensiaal vir dramatiese oorwinnings deur buiteperde van belang, of wedstryde waar spelers mekaar nog nie vantevore die stryd aangesê het nie, maar hul vorige prestasies daarop dui dat die vonke gaan spat.

Entoesiastiese tenniskykers kan nou die Ones to Watch-funksie gebruik. Dit gee ʼn voorskou van die spelers wat deur die Watson KI geïdentifiseer is. Op hierdie manier kan ondersteuners ʼn ogie oor spelers hou wat die rangleer vinnig geklim het, of spelers wat die vermoë het om verwagtinge te oorskry.

IBM Power Rankings-inhoud sal ook in ʼn KI-feiteblad voor elke enkelspelwedstryd beskikbaar wees, genaamd Pre-Match Insights with Watson. Dit sal goeie insig in die statistiek van elke speler gee wat die gebeure van die dag kan beïnvloed. Tennisentoesiaste kan toegang hiertoe verkry deur die Wimbledon-app op hulle slimfone af te laai.

Natuurlike taaltegnologie sal ook gebruik word om statistiek in menstaalkommentaar te omskep.

Vergete is die dae toe sport net iets was wat mense gedoen het om aktief te bly en die buitelug te geniet. Sportbeoefening is nou baie meer op die passiewe kykers voor die kassie as op die aktiewe sportlui self ingestel! (Of so voel dit vir my.) Die konsep om te “speel-vir-die-skare” (met ander woorde om jou te beroep op die mins gesofistikeerde lede van ʼn gehoor om die maksimum goedkeuring te kry) word nou tot groter hoogtes gevoer.

Sport het oor tyd heen ʼn ernstige geldmaakbedryf geword; niks anders as byvoorbeeld die kleinhandelbedryf nie. Tot dieselfde mate wat handelaars begaan is om hulle verbruikers se gewoontes en voorkeure te leer ken om hulle verbruikers te behaag en van hulle laaste geldjies te “verlos”, is die sportbedryf ook op uitstekende ondersteunerservarings ingestel. Net soos die handelaars na mobiele handel en KI gryp om hulle verbruikers beter te bedien, net só doen sportbase dit ook. Niks maak die sportborge se hande sterker as al die 21ste-eeuse digitale hulpmiddels nie, waarvan KI seker die grootste voordele vir hulle inhou.

Uit my eie oogpunt is hierdie groeiende fokus op kykergenot en -gemak dalk goeie nuus. Die DStv-premiumpakket (met sy toegewyde kanaal vir die Wimbledon-toernooi) is my nie beskore nie. Deur die gebruik van alternatiewe digitale tegnologie sal platsak tennisondersteuners soos ek dalk nou al meer te siene kry van hierdie tot-nou-toe eksklusiewe beeldmateriaal.

Dit sal interessant wees om te hoor wat sport-entoesiaste se mening hieroor is: Voeg apps soos SlamTracker en IBM Power Rankings lekker waarde toe, of dink julle dit is onnodig en oormatig gekommersialiseer? Verlang julle terug na die “goeie ou dae” toe SAUK (radio en TV)-uitsendings se sportdekking nog goed genoeg was? Onthou julle nog die rugbykommentators soos ou Spiekeries wat nie eens beeldmateriaal nodig gehad het om Springbok-ondersteuners langs hulle radio’s op te sweep en van die toetsreeks-aksie deel te maak nie?

Met dank aan Bernard Marr, futuris en blogskrywer. Verwys gerus na sy blogs oor KI.

  • Riana Crafford is ʼn dosent in bedryfsinligtingstelsels aan Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.