Kyrgios kla oor senuwees vóór Djokovic-stryd

Australië se Nick Kyrgios. Foto: Sebastien Bozon/AFP.

Kry solank jou aarbeie en room gereed en moenie té jaloers wees op diegene wat ’n kaartjie vir die skouspel kan bekostig nie – Novak Djokovic en Nick Kyrgios speel môre in ’n lokettreffer-eindstryd op Wimbledon.

Nadat Kyrgios – danksy Rafael Nadal se onttrekking – sommer ’n kortpad van die kwarteindstryd na die eindstryd gevolg het, moes Djokovic effens sweet om verby Groot-Brittanje se Cameron Norrie te kom.

Nadat hy die eerste stel sleg verloor het, het die Serwiër homself reggeruk en doodeenvoudig net beter tennis as die Suid-Afrikaans gebore Norrie gespeel om met 2-6, 6-3, 6-2 en 6-4 te wen.

Vreemd genoeg kon Djokovic nog nie een keer vir die vurige Kyrgios klop nie; die Aussie het al twee van hul wedstryde in 2017 op die harde bane van die VSA en Mexiko gewen.

Tog is dit Kyrgios – ’n speler wat vroeër as ’n boelie deur Stefanos Tsitsipas uitgekryt is – wat erken dat senuwees hom op die vooraand van die groot wedstryd pla.

“Om eerlik te wees het ek baie sleg geslaap; waarskynlik net ’n uur. Dit was ’n kombinasie van opwinding en ’n bietje angs. Ek is al klaar so kwaai op my senuwees en dit is nie iets waarmee ek normaalweg sukkel nie,” het Kyrgios gesê.

“Daar was soveel dinge waaraan ek gedink het. Wen én verloor het deur my kop geflits.”

Hy het vroeër vanjaar die dubbelspel-eindstryd van die Australiese Ope saam met Thanasi Kokkinakis gewen, maar môre se Grand Slam-eindstryd sal sy eerste as ’n individuele speler wees.

“Ek sal steeds gelukkig wees – maak nie saak wat die uiteinde van môre se spel is nie. Ek het nooit gedink dat ek in só ’n groot wedstryd sou speel nie.”

Op sy beurt het Djokovic ’n aksiebelaaide eindstryd voorspel.

Novak Djokovic vier sy halfeindstryd-oorwinning. Foto: Daniel Leal/AFP.

“’n Mens kan met amperse sekerheid sê dat die vonke gaan spat. Dit is Nick se eerste Grand Slam-eindstryd, hy is opgewonde en het nie veel om te verloor nie. Hy speel tans met soveel vryheid terwyl sy afslane altyd ’n gedugte wapen is,” het die Serwiër gesê.

Die 35-jarige tennisster weet egter hoe om groot wedstryde te wen en ná ’n wipplankjaar waar sy inentingstatus vir soveel drama gesorg het, sal ’n oorwinning baie vir hom beteken.

Indien hy môre met die louere sou wegstap, sal dit sy vierde Wimbledon-titel op ’n streep wees.

“Ja, ek kon nog nooit ’n stel teen Nick wen nie, maar ons het lanklaas teen mekaar gespeel en hopelik sal dinge nou ’n bietjie anders wees. Dit is nog ’n eindtryd op Wimbledon; ’n toernooi waarvoor ek baie lief is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.