Lando eerste oor eindstreep in Miami

Lando Norris vier sy oorwinning in Miami saam met sy McLaren-span. (Foto: Giorgio Viera/AFP)

Die geruite vlag is uiteindelik vir Lando Norris geswaai nadat die McLaren-renjaer die Miami-Grand Prix gewen het.

ʼn Veiligheidsmotorsessie in die 29ste ronde het mooi in die hande van die 24-jarige Engelsman gespeel en ná ʼn goedberekende besoek aan die kuipe het hy die voortou geneem.

En hy het dit nie weer prysgegee nie.

Hy het te veel skietgoed vir Max Verstappen gehad en hy het uiteindelik die wedren met meer as sewe sekondes gewen.

Verstappen was tweede in sy Red Bull, gevolg deur Ferrari se Charles Leclerc.

“Dankie tog, dit is hoogtyd!” het Norris ná afloop van die wedren gesê. Dit was sy eerste oorwinning in 110 probeerslae.

“Dit het my ʼn hele ruk geneem, maar ek kon dit uiteindelik regkry. Ek kon uiteindelik vir my span wys waartoe ek in staat is. Dit was ʼn lang en taai wedren, maar ek het gewen en ek is ongelooflik bly!”

Volgens Norris het hy reeds Vrydag geweet dat hy vinnig genoeg is om sy stempel op Miami af te druk.

“Ons het nogtans ʼn paar foute gemaak, maar vandag het alles in plek geval. Daarbenewens het ons strategie ook mooi uitgewerk.”

Verstappen – wat deurgaans gesukkel het om die perfekte balans agter die stuur van sy Red Bull-vuurwa te vind – het vroeër die blitsren in Miami gewen en hy is steeds die voorloper op die jaerspunteleer.

Uitslae:

  1. Lando Norris (McLaren)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Charles Leclerc (Ferrari)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. Lewis Hamilton (Mercedes)
  7. Yuki Tsunoda (RB)
  8. George Russell (Mercedes)
  9. Fernando Alonso (Aston Martin)
  10. Esteban Ocon (Alpine)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 136 punte
  2. Sergio Perez: 103 punte
  3. Charles Leclerc: 98 punte
  4. Lando Norris: 83 punte
  5. Carlos Sainz: 83 punte
  6. Oscar Piastri: 41 punte
  7. George Russell: 37 punte
  8. Fernando Alonso: 33 punte
  9. Lewis Hamilton: 27 punte
  10. Yuki Tsunoda: 14 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 239 punte
  2. Ferrari: 187 punte
  3. McLaren: 124 punte
  4. Mercedes: 64 punte
  5. Aston Martin: 42 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.