Laureus-sporttoekennings: Stem vir Suid-Afrika se Natalie

Natalie du Toit. Argieffoto.

Suid-Afrika se swemsensasie, Natalie du Toit, is een van die benoemdes in die Laureus-sporttoekennings se kategorie “sportoomblik van die afgelope 20 jaar”.

Die 36-jarige Du Toit was in 2001 in ’n ernstige motorfietsongeluk betrokke toe ’n voertuig haar bromponie raakgery het op pad skool toe van ’n swemoefening. Hoewel haar been ná die voorval geamputeer moes word, het dit nie die swemvuur in haar hart geblus nie en sy was vasbeslote om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

Ongeveer drie maande ná die ongeluk kon sy weer loop en die bal is aan die rol gesit om die Spele-droom ’n werklikheid te maak.

Ná ’n rits medaljes het Du Toit uiteindelik vir die Olimpiese Spele van 2008 gekwalifiseer nadat sy vierde in die Wêreldoopwater-kampioenskap in Spanje geëindig het.

Sy het die voorreg gehad om die Suid-Afrikaanse vlag gedurende die openingseremonie in Bejing te dra, ’n prestasie wat van haar die enigste atleet maak om die landsvlag by die Olimpiese, asook Paralimpiese Spele in dieselfde jaar te dra.

Saam met Jacaranda se Martin Bester. Foto: Twitter.

“Daar was baie kere dat ek op moedverloor se vlakte gestaan het. Maar ek is dankbaar dat ek ’n span individue rondom my gehad het wat my positief gehou het,” het Du Toit vanoggend op JacarandaFM gesê.

“Wanneer dit voel asof jou droom só ver buite jou bereik is en jy onseker is of jy ooit daarby sal uitkom, is dit belangrik om klein en bereikbare doelwitte vir jouself te stel. Dit is nie noodwendig altyd die beloning aan die einde wat spesiaal is nie, maar eerder die pad wat jou daarheen gebring het.”

Nou kan jy vir Du Toit stem om ook met ’n gesaghebbende Laureus-toekenning weg te stap.

Suid-Afrikaners het tot 16 Februarie kans om vir haar te stem, met die eerste valbyl wat reeds op 3 Februarie sal plaasvind.

Stem vir haar by laureus.com/vote.

  • Stemme vir die top-plekke eindig op 3 Februarie, waarna die finale stemproses op 16 Februarie sluit. Die wenners word op 17 Februarie in Berlyn aangewys.
  • Die Springbokke is onder andere saam met Liverpool, Spanje se basketbalspan, die Toronto Raptors, Amerika se vrouesokkerspan en Mercedes se F1-renspan in die span van die jaar-kategorie benoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.