Loeb laat die Dakar-stof spat

Sebastien Loeb in aksie. (Foto: Frederic Le Floc’h/DPPI via AFP)

Nie een span kon nog vanjaar daarin slaag om twee agtereenvolgende skofte in die Dakar-veldtydren te wen nie.

Die vierde skof is deur Sebastien Loeb en Fabian Lurquin van die Bahrain Raid Xtreme-span beklink. Hulle het die 299 km in ʼn tyd van 02:36:02 getem, gevolg deur Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk van Overdrive Racing.

Onder die Toyota Gazoo Racing-deelnemers het Lucas Moraes en Armand Monleon weer eens die beste gevaar. Hulle het elfde in die skof klaargemaak en hulle is nou vierde op die algehele punteleer.

Giniel de Villiers en Dennis Murphy se frustrasievlakke moes sekerlik die hoogte ingeskiet het, want net soos in die vorige skof het ʼn pap band hulle weer gekniehalter.

“Ek het vroegoggend die span voor my ingehaal en verbygesteek. Ongelukkig het ons ʼn rukkie later ʼn klip getref en met ʼn pap band gesukkel,” het De Villiers gesê.

Die ervare Suid-Afrikaner het die skof in die 18de plek afgesluit, terwyl Guy Botterill en Brett Cummings 16de geëindig het.

“Vandag het eintlik heel goed verloop,” het Botterill gesê. “Ons was op ʼn stadium in die agtste plek, maar toe het twee pap bande op ʼn streep ons poging lelik ontwrig.”

Uitslae (vierde skof):

  1. Sebastien Loeb en Fabian Lurquin (Bahrain Raid Xtreme): 02:36:02
  2. Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk (Overdrive Racing): 02:37:10
  3. Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel (Nasser Racing): 02:37:24
  4. Carlos Sainz en Lucas Cruz (Team Audi Sport): 02:41:10
  5. Stéphane Peterhansel en Edouard Boulanger (Team Audi Sport): 02:42:01
  6. Mathieu Serradori en Loic Minaudier (Century Racing): 02:42:58
  7. Guillaume de Mevius en Xavier Panseri (Overdrive Racing): 02:43:23
  8. Vaidotas Zala en Paulo Fiuza (X-Raid Arijus Team): 02:43:50
  9. Simon Vitse en Frederic Lefebvre (MD Rallye Sport): 02:43:54
  10. Martin Prokop en Viktor Chytka (Orlen Jipocar Team): 02:44:07

Algehele puntestand:

  1. Yazeed Al Rajhi en Timo Gottschalk: 15:44:39
  2. Carlos Sainz en Lucas Cruz: 15:49:08
  3. Nasser Al-Attiyah en Mathieu Baumel: 15:55:42
  4. Lucas Moraes en Armand Monleon: 16:04:10
  5. Mattias Ekstrom en Emil Bergkvist: 16:04:21.
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op die hoogte van wat in die Dakar-tydren gebeur en hoe dit met ons Suider-Afrikaanse deelnemers gaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.