Maradona: Held vir party, skurk vir ander

Foto: Ronaldo Schemidt/AFP.

“Dit is hartseer nuus. Ek het ’n wonderlike vriend verloor en die wêreld is ’n legende kwyt.”

Só het die 80-jarige Brasiliaanse sokkerster Pelé op Twitter geskryf nadat die nuus van Diego Maradona se dood bekend gemaak is.

Die Argentynse sokkerlegende is Woensdag dood, net ʼn paar dae nadat hy sy 60ste verjaardag gevier het.

Matias Morlahas, Maradona se prokureur, het gesê Maradona is in sy huis aan ʼn hartaanval dood, net twee weke nadat hy ʼn operasie ondergaan het weens ʼn bloedklont op sy brein.

Huldeblyke vir dié briljante dog omstrede sokkerspeler stroom sedertdien in.

“Daar is nog soveel wat ek kan sê, maar vir eers, mag God sy familie krag gee. Ek hoop dat ons eendag weer saam sal kan sokker speel,” het Pelé afgesluit.

Binne 15 minute het meer as 100 000 Twitter-gebruikers op sy inskrywing gereageer.

Foto: Ronaldo Schemidt/AFP.

Alberto Fernandez, die Argentynse president, het ’n nasionale rouperiode van drie dae aangekondig, terwyl Maradona se dood die voorblaaie van koerante reg oor die wêreld gehaal het.

Sommige Britse joernaliste was egter meer krities.

Maradona se berugte “Hand of God”-doel het immers gesorg dat Engeland uit die kwarteindstryd van die 1986 Wêreldbeker-sokkertoernooi geboender is.

Aan die einde van die toernooi het ’n 25-jarige Maradona die beker omhoog gehou nadat die Suid-Amerikaners Wes-Duitsland met 3 – 2 in die eindstryd geklop het.

Daily Mirror het ’n foto van hierdie sportoomblik – toe Maradona sy vuis gebruik het om die bal buite die bereik van die Engelse doelwagter Peter Shilton te stuur – op hul voorblad geplaas.

Die opskrif “He is in the hands of God” het die berig perfek opgesom.

Maar selfs die suurste koerantman kan nie die briljantheid van Maradona se spel betwis nie.

“Daar is min mense in die wêreld se geskiedenis wat vir soveel verdeeldheid gesorg het as die man wat amper eiehandig die Wêreldbeker gewen het, terwyl hy blatant óp en ván die veld verneuk het. Maar vir diegene van ons wat bevoorreg genoeg was om Diego Maradona op sy beste te sien, weet dat geen van sy tekortkominge as mens inbreuk op sy briljantheid op die sokkerveld maak nie,” het Mark Irwin vir The Sun geskryf.

Maradona het 34 doele in 91 internasionale wedstryde vir Argentinië aangeteken. Op die klubfront het hy 259 keer die agterkant van die doelhok gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Hoe jammer dat, in tipiese Engelse styl, hulle hom bykans net vir daai hand onthou. Hy was ‘n briljante sokker speler, en nog een van die “oldschool” spelers. Daar is baie moderne spelers wat by hom kan leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.