Max ‘bly’ om tweede viool teen Lando te speel

Max Verstappen wens vir Lando Norris geluk met sy oorwinning in Miami. (Foto: Eric Alonso/DPPI via AFP)

Vir die afgelope paar seisoene is Max Verstappen nie meer daaraan gewoond om op die tweede hoogste trappie van die F1-podium te staan nie.

Die Red Bull-renjaer wen links en regs wedrenne, maar Sondag het hy tweede viool teen Lando Norris in Miami gespeel.

Die 24-jarige Engelsman het sy eerste F1-wedren in 110 probeerslae gewen en volgens Verstappen is hy trots op die McLaren-renjaer.

Hy het terstond ook sy teenstander toegejuig nadat hy oor die wenstreep gejaag het.

“Dinge het mooi tot Lando se triomf opgebou en ek is baie bly dat hy my vandag geklop het. Hy het dit verdien – hy was uiteindelik baie vinniger gewees,” het die verdedigende wêreldkampioen gesê.

Volgens Verstappen is ʼn eerste F1-sege altyd ʼn spesiale oomblik vir enige renjaer.

“Dit is baie emosioneel en dit laat ʼn mens terugdink aan die tyd toe jy nog hard gewerk het om deel van die F1-aksie te wees. Daarna droom jy van ʼn podiumplek en om eendag op die hoogste trappie te staan.”

Verstappen het maar ʼn wipplank-stryd agter die stuur van sy Red Bull-vuurwa in Miami gehad. Hy het die blitsren gewen en die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel, maar hy kon later in die hoofren net nie by Norris kers vashou nie.

“Ek is natuurlik nie baie gelukkig met my eie vertoning nie, maar ʼn mens het respek vir alles wat Lando vermag het en ek is baie bly vir hom.”

Intussen het Christian Horner laat weet dat Verstappen sy renmotor beskadig het toe hy in die 20ste ronde van die wedren ʼn veiligheidsmerker getref het.

“Ons sal nog dinge mooi moet ontleed, maar voordat hy dit getref het, het hy glad nie met sy spoed gesukkel nie. As ʼn mens die skade aan sy renmotor se onderstel in ag neem, is ʼn tweede plek ʼn goeie uitslag vir ons,” het die Red Bull-spanbaas gesê.

Verstappen is steeds die algehele voorloper op die jaerspunteleer met sy 136 punte, gevolg deur spanmaat Sergio Perez (103 punte) in die tweede plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.