Novak in Adelaide ook baas van die plaas

Novak Djokovic spog met sy trofee in Adelaide. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Novak Djokovic het sy voorbereidingswedstryde vir die Australiese Ope op die beste moontlike manier afgesluit toe hy in die Adelaide International 1-toernooi met die louere weggestap het.

Die 35-jarige Serwiër het Sebastian Korda met 6-7, 7-6 en 6-4 geklop om die 92ste titel van sy loopbaan in te oes.

Korda het baie goed gespeel en hy het in die tweede stel op die randjie gestaan om die kampioenskap te wen, maar Djokovic het oudergewoonte terugbaklei en weer eens gewys waarom hy as een van die beste spelers ooit gereken word.

Die voormalige wêreldnommereenspeler was ook vol lof vir die toeskouers.

“Hierdie was ʼn ongelooflike week en julle het dit net soveel meer spesiaal gemaak. Hierdie ondersteuning is iets wat ek nog nie baie keer in my loopbaan ervaar het nie en ek wil vir almal dankie sê wat na die wedstryde kom kyk het,” het hy gesê.

Met Carlos Alcaraz wat die komende Grand Slam-toernooi weens ʼn besering gaan misloop, moet Djokovic een van die gunstelinge wees om in die Australiese Ope die septer te swaai.

Voordat Australië se Covid 19-regulasies ʼn stokkie voor sy deelname in 2022 gesteek het, het die Serwiese ster  ʼn ongelooflike houvas op die Melbourne-titel gehad – hy het reeds nege keer die silwerware omhoog gehou.

As Rafael Nadal dan die “Koning van Klei” in Frankryk is, moet Novak Djokovic ongetwyfeld die “Meester van Melbourne” in Australië wees.

En volgens Goran Ivanisevic word die Serwiër net beter.

“Novak oefen deesdae harder as ooit; baie meer as toe hy 22 jaar oud was. Dit is die hoofrede waarom hy nog so goed is en waarskynlik selfs beter sal word. Sy wil om te oefen en om sy vaardigheid op die baan te slyp, is ongelooflik inspirerend,” het die Kroatiese oudspeler gesê.

  • Die Australiese Ope begin op 16 Januarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.