Olike Rublev swaai nogtans tennissepter in Madrid

Andrey Rublev het vir Felix Auger-Aliassime in die eindstryd van die Madrid-ope geklop. (Foto: Thomas Coex/AFP)

Ondanks die feit dat hy nie 100% gesond was nie, is Andrey Rublev die tennismeester van Madrid nadat hy vir Felix Auger-Aliassime met 4-6, 7-5 en 7-5 geklop het.

Die Rus het boonop ʼn paar wedstryde op ʼn streep in aanloop tot die Madrid-ope verloor en erken dat dié triomf altyd spesiaal vir hom sal wees.

“Daar is nie eintlik woorde om te beskryf hoe ek voel nie. As julle maar net geweet het wat ek alles in die afgelope nege dae moes deurmaak, sou julle my nooit ʼn kans gegee het om te wen nie. Ek is ongelooflik tevrede en gelukkig met my vertoning,” het Rublev gesê.

Volgens die Moskou-boorling was hy baie moeg op sy voete.

“Ek het seker vir die laaste vier nagte nie ʼn oog toegemaak nie. Ja-nee, dit is die trotsste titel van my loopbaan.”

Boonop het dinge ook nie te goed in die eindstryd gelyk nie toe Auger-Aliassime die eerste stel met 6-4 beklink het.

Maar Rublev kon stelselmatig ʼn houvas op die wedstryd kry en hy het veral in sy afslaanpotte uitgeblink.

Sy Kanadese teenstander het weliswaar meer kishoue geslaan, maar Rublev het op ʼn drafstap gewen wanneer dit sy beurt was om af te slaan.

“Ek dink dit was ʼn uitstekende tenniswedstryd. Felix het ook eintlik verdien om te wen en nie een speler het vir die ander teruggestaan nie. Ek dink ook dat die toeskouers die wedstryd geniet het en dit is vir my die belangrikste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.