Oudspeler meen Novak word stief behandel

 

Novak Djokovic. Foto: Kena Betancur/AFP.

Justine Henin het vroeër gesê dat Novak Djokovic nooit so gewild soos Roger Federer of Rafael Nadal onder tennisondersteuners sal wees nie.

Nou meen Nikola Pilic, ’n voormalige Kroatiese tennisspeler, dat die 34-jarige Serwiër inderdaad stief deur die tennisgemeenskap behandel word.

En Pilic het veral na verlede jaar se Amerikaanse Ope-toernooi verwys.

Djokovic se opmars na ’n vierde titel in New York het skielik in ’n wedstryd teen Pablo Carreño Busta tot ’n einde gekom.

Die wêreld se voorste speler het destyds ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om die eerste stel teen die Spanjaard te wen. Uit pure frustrasie het hy die bal weggeslaan en een van die wedstrydbeamptes teen haar keel getref.

Hy het haar onmiddellik te hulp gesnel, maar ná ’n lang gesprek met beamptes is daar besluit om sy Ope-veldtog te beëindig en hy is gediskwalifiseer.

Ten spyte van die feit dat die Amerikaanse tennisowerhede bevestig het dat die voorval bloot net ’n ongeluk was, is Djokovic steeds beboet.

“As Roger Federer dieselfde ding as Novak Djokovic gedoen het, sou hulle hom beslis nie gediskwalifiseer het nie,” het Pilic aan ’n plaaslike koerant gesê.

Die wêreld se no. 1-speler geniet ’n wipplank-verhouding met tennisondersteuners. Soms hou hulle van hom en ander kere nie, terwyl hy ook gereeld uitgejou word.

Maar ná vanjaar se Amerikaanse Ope-eindstryd teen Daniil Medvedev het hy ’n paar toeskouers bygekry.

“Natuurlik is ek hartseer, daar was so baie op die spel. Maar selfs al het ek nie gewen nie, is ek steeds die gelukkigste man ter wêreld, want julle het my baie spesiaal laat voel. Ek het nog nooit so in New York gevoel nie,” het ’n emosionele Djokovic ná die wedstryd gesê.

Terselfdertyd was hy ook verlig dat alles verby is – daar was baie druk op hom om Rod Laver se rekord van vier Grand Slams in een jaar te ewenaar.

“As professionele sportman wil jy graag wedstryde wen, maar hierdie oomblik is een wat ek vir altyd sal koester.”

Volgens Pilic het hy destyds aan Serwiese joernaliste gesê dat hy slegs vir Djokovic as die beste speler nóg sal bestempel as hy vanjaar se Wimbledon-toernooi sou wen.

Iets wat die Serwiër terstond gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.