Plaaslike bofbalspan beste in Afrika, wil wêreldbeker wen

 

Foto: Verskaf.

Baseball5 is ’n splinternuwe konsep wat op enige plek, te eniger tyd gespeel kan word. In ’n neutedop is dit ’n aksiebelaaide (en vinniger) weergawe van bofbal of sagtebal waar spanne ’n rubberbal met hul hande slaan en hul teenstanders met puik wedstrydstrategieë en flinke veldwerk probeer fnuik.

En raai wat? Suid-Afrika is die Afrika-kampioen.

Mariska Barnard en haar spanmaats het met Kenia in die eindstryd van die Afrika-kampioenskap in Tanzanië afgereken om sodoende hul plek in dié sportsoort se eerste Wêreldbeker-toernooi te bespreek.

“Omdat die spel vinniger is, moet jy baie meer op jou voete kan dink. Omtrent al die spelers het ná afloop van die toernooi gesê dat hul “gewone” sagtebal of bofbal danksy dié formaat verbeter het – juis omdat jy nou soveel vinniger besluite op die speelveld kan neem,” het Barnard in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Die jong Pretorianer is as die kaptein van die Suid-Afrikaanse span aangewys; ’n eer wat sy met al twee hande aangegryp het.

“Dit was vir my die grootste voorreg om kaptein van die span te wees en toe hulle my naam uitgelees het, het dit aanvanklik ’n rukkie geneem om in te sink. Terselfdertyd is dit ’n rol wat met groot verantwoordelikheid gepaardgaan – jy moet kan sterk staan vir jou span.”

Die spanlede kom van oor die land en hulle het voor die Afrika-toernooi gereeld oefenkampe in Edenvale bygewoon.

Volgens Barnard was dit juis hierdie oefenkampe wat wondere met die span se gevoel van esprit de corps verrig het.

Foto: Verskaf.

“Ons het almal in dieselfde gastehuis gewoon en ’n hegte eenheid gevorm. Trouens, ek glo dat dit die een ding is wat ons van die ander spanne onderskei het: Ons is beste vriende wat vir mekaar en vir die span gespeel het. Ons wou Suid-Afrika trots maak.”

Sy erken dat die senuwees beslis voor die eerste wedstryd geknaag het.

“Ek glo dat dit baie van ons se droom was om op die kalklyn te staan en die volkslied te sing. Ek het met die gesingery hoendervleis gehad en dit wou nie weggaan toe ons begin speel het nie.”

Die doelwitpad vorentoe is duidelik uitgestippel – Barnard en Kie mik vir die Wêreldbeker-toernooi en wil hul bes doen om met die silwerware huiswaarts te keer.

Dan wil hulle ook hul deel doen om die sport in die land te ontwikkel.

“Toe ons ’n rukkie terug begin het, was die sportsoort nog in sy ontwikkelingsfase, maar nou is daar soveel mense wat daarin belangstel.”

En in dié span het Suid-Afrika ’n paar uitstekende sportambassadeurs.

Finale puntestand:

  1. Suid-Afrika (kwalifiseer vir Wêreldbeker-toernooi)
  2. Kenia (kwalifiseer vir Wêreldbeker-toernooi)
  3. Tunisië
  4. Uganda
  5. Tanzanië
  6. Zambië
  7. Ghana
  8. Burkina Faso
  9. Zimbabwe
  10. Egipte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.