Proteas wil vir opskuddings sorg

Norma Plummer – Protea-afrigter. Foto: Twitter.

Die vierhoekige reeks tussen Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland en Engeland begin môre in alle erns met die Proteas wat eerste teen die Kiwi’s te staan kom.

Volgens die jongste internasionale netbalranglys is die Nieu-Seelanders die naasbeste span ter wêreld, terwyl die Suid-Afrikaners die vyfde plek beklee.

Tog sal Bongi Msomi se span oorgehaal wees om met ʼn stewige vertoning teen die besoekende spanne vorendag te kom – die Wêreldbeker-toernooi vind immers oor minder as 200 dae plaas.

“Die meisies is slaggereed om hul ding op die baan te doen. Dit is vroeg in die jaar en almal is opgewonde om netbal te speel. Hierdie reeks is baie belangrik want ons kan nou bepaal waar ons trek met die oog op ons gereedheid vir die Wêreldbeker,” het die Protea-kaptein gesê.

Norma Plummer, die afrigter, het ʼn goeie span tot haar beskikking met spelers soos Karla Pretorius, Lenize Potgieter, Zanele Vimbela en Shadine van der Merwe wat almal in oorsese ligas teen die wêreld se topsterre speel.

“Ja, ons het ʼn kombinasie van goeie spelers – jonk en ervare. Dit is egter belangrik dat ons hulle goed bestuur tydens die reeks sodat ons die beste uit elkeen van hulle kry,” het Plummer gesê.

Die 78-jarige afrigter – wat Australië ook tussen 1972 en 1981 op die baan verteenwoordig het – is opgewonde oor die Proteas se deelname aan die vierhoekige reeks.

“Dit is belangrik, nie net omdat ons in ʼn Wêreldbekerjaar is nie, maar ook omdat ons teen spanne speel wat bó ons op die internasionale ranglys is. Dit bied ons ʼn geleentheid om vir ʼn opskudding of twee te sorg.”

Die naweek se bepalings:

Saterdag:

16:00: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

18:00: Australië teen Engeland

Sondag:

16:00: Suid-Afrika teen Engeland

18:00: Australië teen Nieu-Seeland

Protea-groep:

Lenize Potgieter, Ine-Marí Venter, Nicholé Taljaard, Nomfundo Mngomezulu, Sesandile Ngubane, Bongi Msomi (kaptein), Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Refiloe Nketsa, Boitumelo Mahloko, Phumza Maweni, Karla Pretorius, Shadine van der Merwe (onderkaptein), Zanele Vimbela en Monique Reyneke-Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.