Raducanu weer honger vir sukses

Emma Raducanu glimlag groot ná haar oorwinning in die eerste ronde van die Australiese Ope. (Foto: X/Australian Open)

Emma Raducanu het in 2021 die verbeelding van die tenniswêreld aangegryp toe sy met die Amerikaanse Ope-louere weggestap het. Maar sedert haar triomftog in New York het sy met haar spelpeil gesukkel, terwyl beserings ook ʼn gereelde verskynsel geword het.

Nou het sy haar eerste Grand Slam-kragmeting in amper ʼn jaar gewen toe sy met Shelby Rogers in die Australiese Ope afgereken het.

Die eindtelling was 6-3 en 6-2 in die jong Brit se guns.

Raducanu het in 2023 ʼn paar operasies aan haar enkel en gewrig ondergaan en sy het opgewonde ná die wedstryd vertel dat dit “ongelooflik” is om sonder ongemak te speel.

“Die oorwinning smaak sommer ekstra soet omdat dit my eerste Slam in ʼn hele rukkie is. Shelby is ʼn gerekende teenstander – sy het al met ʼn paar spogvertonings vorendag gekom – maar ek is tevrede met my spel,” het die 21-jarige speler gesê.

“Die tyd weg van die baan het my baie honger vir sukses gemaak. Ek is baie dankbaar om weer fiks te wees en heeltemal sonder pyn te speel.”

Intussen het Carlos Alcaraz ook sy toernooi op ʼn wennoot begin.

Die wêreld se naasbeste speler het Frankryk se Richard Gasquet met 7-6, 6-1 en 6-2 geklop.

  • Uitslae:

Mans:

Alex de Minaur klop Matteo Arnaldi met 6-3, 6-0 en 6-3

Jannik Sinner klop Jesper de Jong met 6-2, 6-2 en 6-2

Thanasi Kokkinakis klop Sebastian Ofner met 7-6, 2-6, 6-7, 6-1 en 7-6

Alexander Zverev klop Dominik Koepfer met 4-6, 6-3, 7-6 en 6-3

Carlos Alcaraz klop Richard Gasquet met 7-6, 6-1 en 6-2

Lorenzo Sonego klop Dan Evans met 4-6, 7-6, 6-2 en 7-6

Vroue:

Beatriz Haddad Maia klop Alina Korneeva met 6-1 en 6-2

Coco Gauff klop Caroline Dolehide met 7-6 en 6-2

Barbora Krejcikova klop Tamara Korpatsch met 6-2 en 6-2

Mirra Andreeva klop Ons Jabeur met 6-0 en 6-2

Maria Timofeeva klop Caroline Wozniacki met 1-6, 6-4 en 6-1

Emma Raducanu klop Shelby Rogers met 6-3 en 6-2

Jessica Pegula klop Rebecca Marino met 6-2 en 6-4

Elena Rybakina klop Karolina Pliskova met 7-6 en 6-4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.