Rafa streef na onverskrokke spel

Rafael Nadal wuif vir die toeskouers in Rome. (Foto: X/ATP Tour)

Rafael Nadal is deur na die volgende ronde van die Italiaanse Ope nadat hy vir Zizou Bergs met 4-6, 6-3 en 6-4 in Rome geklop het.

Dit het met tye egter gelyk of die 37-jarige Spanjaard versigtige tennis gespeel het en hy het nie soos altyd elke liewe bal op die baan gejaag nie.

Hy sal in die volgende ronde teen Pole se Hubert Hurkacz te staan kom.

“Ek moet leer om nie meer skrikkerig te wees nie. Ek moet oukei daarmee wees om risiko’s te neem en as iets sou skeefloop, moet ek dit aanvaar.  Maar die tyd is ryp om my beste te gee; ek voel meer gereed as ooit om dit te doen,” het Nadal gesê.

Volgens die wenner van 22 Grand Slam-titels is die Franse Ope steeds die skat aan die einde van die terugkeerreënboog.

“Roland-Garros is om die draai en ek moet dit aan myself bewys dat ek my lyf tot die uiterste kan toets en dat ek gereed is vir die uitdagings wat voorlê.”

Hy sal egter op sy hoede vir Hurkacz moet wees – die Pool spog immers met een van die giftigste afslane op die internasionale tennisverhoog.

“Ek hoop van harte dat ek beter teen hom as teen Zizou kan speel. Ek sal moet leer om dinge op ʼn ander manier te benader. Maar hierdie oorwinning het my ʼn kans gegee om nog te speel en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Uitslae:

Iga Swiatek klop Bernarda Pera met 6-0 en 6-2

Marketa Vondrousova klop Ana Bogdan met 6-2, 3-6 en 6-4

Coco Gauff klop Magdalena Frech met 6-3 en 6-3

Beatriz Haddad Maia klop Wang Xinyu met 4-6, 6-3 en 6-4

Naomi Osaka klop Marta Kostyuk met 6-3 en 6-2

Aliaksandra Sasnovich klop Ekaterina Alexandrova met 6-0 en 6-1

Dusan Lajovic klop Lorenzo Sonego met 6-3, 6-7 en 6-3

Aslan Karatsev klop Mackenzie McDonald met 4-6, 6-3 en 6-4

Fabio Fognini klop Dan Evans met 6-4, 3-6 en 6-2

Jack Draper klop Borna Coric met 7-5 en 6-1

Matteo Arnaldi klop Harold Mayot met 3-6, 7-5 en 6-4

Rafael Nadal klop Zizou Bergs met 4-6, 6-3 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.