Rekordbreker Djokovic besing Federer se lof

Novak Djokovic en Roger Federer. Foto: David Gray/AFP.

Novak Djokovic het Maandag amptelik die leisels by Roger Federer oorgeneem as die speler wat die septer op die ATP-wêreldranglys al die langste swaai.

Die 33-jarige Serwiër is nou vir ’n ongelooflike 311 weke van sy loopbaan die wêreld se voorste speler. Maar hy het steeds net lof vir die 39-jarige Federer.

“Wat Roger op sy ouderdom vermag is ’n inspirasie vir almal en dit is baie lekker om hom weer terug op die baan te hê,” het Djokovic gesê.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het saam met ’n paar knie-operasies gesorg dat Federer vir langer as ’n jaar die aksie van langs die baan dopgehou het, maar hy maak vandeesweek sy terugkeer in die Katar Ope in Doha.

“Toe ek 15 jaar gelede professionele tennis begin speel het, het ’n reuse-uitdaging my in die gesig gestaar: Om beter as Roger en Rafa (Nadal) te speel.”

Die pad na sukses was aanvanklik nie te maklik nie en Djokovic kon in die eerste drie jaar van sy loopbaan nie ’n enkele wedstryd teen die twee wen nie.

“Hulle het my ongetwyfeld die speler gemaak wat ek vandag is. Ek moes noodgedwonge my huiswerk doen en na maniere soek om op die baan teen hulle verbeter. Die wedywering tussen ons drie het die grootste invloed op my spel gehad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.