Sabalenka stuit Swiatek in Spanje

Aryna Sabalenka spog met die silwerware in Madrid. (Foto: Antoine Couvercelle/DPPI via AFP)

Die wêreld se naasbeste speler het die voorste speler op die WTA-ranglys in drie stelle geklop om die Madrid-ope te wen.

Aryna Sabalenka het vir Iga Swiatek met 6-3, 3-6 en 6-3 oorrompel om die tweede keer in die afgelope drie jaar met die louere in die Spaanse hoofstad weg te stap.

Die Belarussiese speler was veral gevaarlik op die aanval en die Pool moes haar storie ken om by te bly.

“Dit is altyd ʼn groot uitdaging om teen Iga te speel en ek moet ongetwyfeld op my heel beste wees. Ek geniet dit egter om teen haar te speel en hopelik kan ons vanjaar in ander eindstryde ook teen mekaar kragte meet,” het Sabalenka gesê.

Vóór gister se aksie in Madrid kon Sabalenka nie eens ʼn enkele stel teen Swiatek op ʼn kleibaan wen nie, om dan nie eens van ʼn wedstryd te praat nie.

“Ek is baie dankbaar dat ek staande gebly het en vir ʼn slag kon wen. Dit is darem nou nie meer so vervelig vir die toeskouers om ons kragmetings te volg nie!”

Die Pool het egter in die tweede stel teruggeveg en sy het ook goed in die beslissende stel gelyk, maar Sabalenka het geweier om dié keer handdoek in te gooi.

“Die derde stel was glad nie maklik nie, maar ek het dit van Iga verwag; sy sal tot die heel laaste punte baklei. Ek is trots op my ingesteldheid en dat ek nooit gaan lê het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.