Silwer Varings te sterk vir Proteas

Die Proteas het hul eerste wedstryd van die vierhoekige reeks met 61 – 41 teen Nieu-Seeland verloor. Foto: Twitter.

Nieu-Seeland het die eerste slag van die vierhoekige netbalreeks geslaan toe hulle Suid-Afrika met 61 – 41 in Kaapstad geklop het.

Die toernooi tussen die voorste internasionale spanne – Australië en Engeland is ook deel van die aksie – is die perfekte voorbereiding vir later vanjaar se Wêreldbeker-toernooi.

Die Proteas het in die eerste twee kwarte hul goed van hul taak gekwyt en teen rustyd was hulle met net vyf doele agter.

Maar die Kiwi’s het die doelkrane in die derde kwart oopgedraai en veral Grace Nweke was ʼn doring in die tuisspan se vlees.

Die 20-jarige doel, wat van Nigeriese herkoms is, staan 1,93 m in haar sokkies en sy is dodelik in die doelsirkel.

Saam met haar spanmaats se akkurate aangeewerk het sy toegesien dat die Silwer Varings die kwart met 20 – 5 beklink het.

Hoewel die Proteas moedig in die laaste kwart teruggeveg het – van Karla Pretorius tot Lenize Potgieter verdien ʼn klop op die skouer – het hulle steeds die onderspit met 20 doele gedelf.

Die Suid-Afrikaners beskik ongetwyfeld oor die vermoë om vir ʼn opskudding te sorg. Vandag was die Nieu-Seelanders egter net te sterk.

  • Opbreek van kwarte:

Eerste kwart: Suid-Afrika 11 – 15 Nieu-Seeland

Tweede kwart: Suid-Afrika 14 – 15 Nieu-Seeland

Derde kwart: Suid-Afrika 5 – 20 Nieu-Seeland

Vierde kwart: Suid-Afrika 11 – Nieu-Seeland 11

Eindtelling 61 – 41 in Nieu-Seeland se guns

  • Spanne:

Suid-Afrika: Lenize Potgieter, Nicholé Taljaard, Bongi Msomi (kaptein), Khanyisa Chawane, Shadine van der Merwe, Karla Pretorius en Phumza Maweni. Plaasvervangers: Ine-Marí Venter, Nomfundo Mngomezulu, Izette Griesel, Refiloe Nketsa en Monique Reyneke-Meyer.

Nieu-Seeland: Grace Nweke, Ameliaranne Ekenasio (kaptein), Gina Crampton, Whitney Souness, Kate Heffernan, Phoenix Karaka en Kelly Jury. Plaasvervangers: Karin Burger, Sulu Fitzpatrick, Elisapeta Toeava, Jane Watson en Maia Wilson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.