Talent en mentorskap – Verstappen in binnebaan

Max Verstappen. Foto: Christian Bruna/AFP.

Damon Hill weet wat dit verg om die beste ter wêreld te wees. Die voormalige Britse renjaer het immers in 1996 ’n fel aanslag van Jacques Villeneuve en Michael Schumacher afgeweer om die F1-wêreldtitel te wen.

Nou meen hy dat Max Verstappen oor die nodige wilskrag en vaardighede beskik om weer vir Lewis Hamilton te troef.

Die laaste wedren van die 2021-seisoen in Abu Dhabi het beslis ’n groot rol in die jong Nederlander se uiteindelike oorwinning gespeel, maar hy was deurgaans ’n krag om mee rekening te hou.

Verstappen was in 2021 vir 652 rondes heel voor in die wedrenkoor, terwyl Hamilton vir 297 rondes die pas aangegee het. Sy bestuursvernuf en talent het dus ongetwyfeld ook ’n invloed op elke wedren gehad.

Die Red Bull-renjaer word van jongs af deur sy pa touwys gemaak.

Volgens Hill speel Jos Verstappen ’n baie belangrike rol in sy seun se suksesverhaal: Dit is goed as iemand jou sommer vroeg leer dat F1 nie net altyd uit maanskyn, rose, geruite vlae en vonkelwyn bestaan nie.

Harde werk en deursettingsvermoë is twee onderwerpe waaroor Verstappen senior gereeld ernstige gesprekke met sy seun het.

“Max het iemand soos Jos nodig; ’n baie ervare renjaer wat sy storie ken en wat destyds belangrike lesse op die moeilike manier geleer het,” het Hill gesê.

Benewens sy pa se mentorskap, meen Jenson Button (ook ’n voormalige Britse wêreldkampioen) dat Verstappen se behendigheid agter die stuur en sy aggressie hom van die ander F1-sterre onderskei.

“Max beskik oor ongelooflike vaardighede. Trouens, wanneer ’n mens van suiwer talent praat, glo ek dat hy die talentvolste bestuurder in die sport se geskiedenis is,” het Button gesê.

Met Hamilton wat oorgehaal is om die bordjies te verhang en Verstappen wat vasberade is om hom weg van die wêreldtitel te hou, wag daar ’n opwindende 2022-seisoen op F1-liefhebbers.

Dit is goed vir die sport.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.